Centurion-sanger se baba Luke gebore

Elmé en haar man, Ben, wat sewe jaar vir hul eersteling probeer het, het verlede Woensdag hul pienkvoet vir die eerste keer vasgehou.

“Hello boetie! Jy’s ons mooiste baba!”

So het Elmé Churr, die Afrikaanse sanger van Centurion, haar klein “wonderwerkie” verwelkom.

Elmé en haar man, Ben, wat sewe jaar vir hul eersteling probeer het, het verlede Woensdag hul pienkvoet vir die eerste keer vasgehou.

Luke Benrich Churr het om 10:29 sy verskyning gemaak.

“Jy is perfek. Kyk net daardie tongetjie. Jy is my liefie, my kind. Ons het jou so lief,” het Elmé gesê toe sy die eerste keer haar seuntjie teen haar bors vasdruk.

Luke weeg 2,85kg en is 51cm lank.

“Alles het goed afgeloop. Mamma en baba is gesond. Dankie vir al die mooi boodskappe. Ons is so geseënd met ongelooflike vriende en familie wat elke nou en dan gevra het hoe dit met Luke en Elmé gaan. Dankie vir julle liefde en belangstelling,” het Ben na afloop van Luke se geboorte gesê.

“Baba het sy pappa se ‘vet’ voetjies en sy mamma se lippies,” lag die paartjie.

Op ’n video wat Elmé kort na die geboorte, toe dinge effens rustiger was, gedeel het, wys hoe pappa Ben op ’n stoel langs die bed aan die slaap raak.

“Ben was ou kole,” sê Elmé met daardie aansteeklike laggie van haar.

Die nuwe gesin is Vrydag huis toe.

LEES MEER: Sangeres gekroon as melktertkoningin

“Hy is vrek soet en drink mooi. Ons moes Luke wakker gemaak het om te drink,” vertel Elmé.

“Dit is só lekker om by die huis te wees. Ek wil net heeltyd tjank. Ek kan nie glo dat ek ‘iets’ só kan liefhê nie.”

Hul honde was net so opgewonde om die klein lyfie te verwelkom.

“Die honde is so nuuskierig. Hulle wil net heeltyd snuffel en kyk wie die nuwe lid van die gesin is.”

Elmé en Ben het lank vir ’n kindjie gebid.

Hulle was op die punt waar hulle só mismoedig geword het, want elke keer as hulle ’n toets koop, is dit negatief. Dit het gevoel asof ’n babatjie nie vir hulle beskore was nie.

“Luke is ons grootste geskenk,” sê Elmé.

Luke se kot het al van Maart-maand in die hoek van hul woning in Midstream-landgoed gestaan. Die dierbaarste babaklere het al in die kas gehang – van ’n swempakkie tot ’n paar crocs.

“In die hospitaalkamer het Ben sommer gevra, ‘Elmé, is jy reg vir die volgende een?’”

Read the English version here: Centurion couple welcomes miracle baby into the world

Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:

Rekord East

Rekord North

Rekord Centurion

Rekord Moot

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button