VIDEO: Op die musiekhorison hierdie week: Early B en Jack Parow

Early B, oftewel Earl Swartz (29), is bekend vir sy spitsvondige lirieke en humoristiese musiekstaaltjies.

’n Trio in die musiekwêreld is terug met ’n prettige tong-in-die-kies musiekvideo.

Potte is die gewilde kletsrymer van Port Elizabeth, Early B se nuutste humoristiese treffer.

Die musiekvideo is in samewerking met die multi-bekroonde kletsrymlegende Jack Parow en vervaardiger Justin Vega vervaardig.

Die video, wat deur regisseur Gerhard van Rooyen in die Kaap verfilm is, is basies ’n visuele uitbeelding van dit waaroor die musikante in die video sing.

“Ek, Jack Parow en Justin Vega is die hoofkarakters in die video,” sê Early B.

Basies is die idee om die PE-spreekwoord ‘Potte’ en die betekenis daarvan (dame met ’n mooi lyf) aan die publiek bekend te stel.

“Die boodskap is ook hard en duidelik dat my en Jack se karakters van Potte hou,” vertel Early B oor die idee agter die video.

“Natuurlik het daar ook ’n paar oulike modelle by ons aangesluit vir die video.

“Gerhard het ’n paar veranderinge gemaak om my aanvanklike idee mooi te laat lyk op die skerm. Dit was ’n lekker spanpoging.”

Die video het reeds sosialemediaplatforms oorgeneem. Gaan kyk dit hier:

“Dis eintlik net ’n liedjie vol pret,” sê Early B.

“Ek hou daarvan om mense na te maak en in PE, wanneer ouens ’n dame sien wat lekker gebou is, sê hulle dit presies soos wat ek dit in die koor sing: ‘Daai kind het potte, whuh’,” verduidelik hy.

“Dis al so ’n gewilde spreekwoord in die area, dat selfs die kinders dit gebruik.

“Ek wou net iets lig doen op die awesome ritme wat Justin geskep het. Almal het so ’n bietjie nodig om los te ruk, te dans en te lag.

“Daar is baie ernstige snitte op my album en dit was nodig om ligter liedjies ook in te bring om die balans te herstel,” voeg hy by.

Early B, oftewel Earl Swartz (29), is bekend vir sy spitsvondige lirieke en humoristiese musiekstaaltjies.

Die kunstenaar het, oor die afgelope nege jaar, ’n gereelde gesig geword by van die land se grootste feeste en konserte, soos die KKNK.

As akteur, het hy ook al verskyning gemaak in plaaslik-vervaardige televisiereekse soos Hotel Songololo en Kniediep in Kookwater.

Hy is veral bekend vir sy treffer, Bene Lam, wat nie net aan hom ’n Ghoema-toekenning besorg het vir Beste Hip-Hop-liedjie in 2017 nie, maar ook verskeie weke bo-aan die kletsrymtrefferlyste van groot radiostasies gepronk het.

Sy mees onlangse suksesverhaal, Ben Ten, het nie net bo-aan die treffersparades van groot radiostasies gekuier nie, maar die skreeusnaakse musiekvideo is ook reeds deur sowat 500 000 aanhangers op YouTube gekyk.

Jack Parow, oftewel Zander Tyler, is natuurlik bekend vir sy liedjie Cooler as Ekke wat in 2009 uitgereik is en het onmiddellik opslae gemaak.

Verskeie suksesvolle albums, musiektoekennings en treffers, asook ’n brandewynhandelsmerk (Parow Brandy) later, is sy loopbaan steeds besig om te groei en is hy heel in sy noppies om deel te wees van hierdie projek.

Justin Vega is ’n bekende platejoggie en musiekvervaardiger van die Kaap, wat sy passie uitleef deur unieke ritmes bymekaar te bring en musiek met ’n vars aanslag te benader.

Hy is ’n gesoute musikant, wat net so vaardig is agter die tromme en klavier as agter die klankbord, en het ’n groot voorliefde vir Jazz.

Potte, wat deel uitmaak van Early B se eerste album, Aangename Kennis, wat in Augustus 2018 vrygestel is, is reeds baie goed deur die publiek ontvang.

Die album is beskikbaar by Musica en aanlyn op iTunes, Google Play, Joox, Spotify en Tidal.

Volg Early B op:

Facebook: https://www.facebook.com/earl.swartz.5

Twitter: @earlyb_music

Instagram: @earlybmusic

Webblad: www.earlybmusic.com

YouTube: https://www.youtube.com/channel/UCC8fPygdzr9VjPp5Z7Cha5A

Reverbnation: https://www.reverbnation.com/earlagemi

Volg Jack Parow op:

Facebook: https://www.facebook.com/jack.parow/

Twitter: @JackParow

Instagram: @jackparow

Webblad: www.jackparow.co.za

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

Related Articles

Back to top button