Nuut op die musiek-horison hierdie week

Hierdie Afrikaanse albums sal jou week opkikker.

Geraldine se ‘Iemand’

Kort na die vrystelling van haar nuutste enkelsnit, “Iemand” is Suid-Afrika se gunsteling-blondekop, Geraldine Scholtz, terug met ’n musiekvideo wat hierdie treffer soos ’n handskoen pas.

Gerhard van Rooyen van GVR Productions het die video in die Hazelwood-area in Pretoria verfilm.

“Dit gaan oor ’n meisie met ’n gebroke hart wat in die stad aankom met die hoop om die perfekte een te ontmoet. Die ontvangsdame hoor die gesprek met haar ma en pa dat sy ‘Iemand’ gaan ontmoet, ‘’n man soos haar pa’. Die vrou gee dan vir haar ’n sjokolade, min wetend dat dit haar lewe gaan verander. Kykers kan ook ’n baie interessante einde verwag, wat ons oop gelaat het vir interpretasie,” verklap die kunstenaar, wat self die storielyn hiervoor geskep het, opgewonde.

“Die video begin met ’n inleiding, iets wat ek baie graag wou inhê. Verder sluit die storielyn aan by die lirieke van die liedjie, wat dit nog meer spesiaal maak. Ek het dit vreeslik geniet om die musiekvideo aan mekaar te sit.”

Dié popliedjie, wat deur Johan Oberholzer geskryf en deur Robin Kielly vervaardig is, is uit die staanspoor goed ontvang, het reeds ’n draai gemaak op verskeie radiostasies en is klaar ’n gunsteling by Scholtz se konserte. Volgens die sangeres gaan die liedjie daaroor om te wag vir die perfekte een saam met wie jy die res van jou lewe wil spandeer.

“Dit is vir my belangrik om iets te sing wat in my hart is en waarvan ek ook sal hou. Ek hoop dit kan jou laat dans soos wat ek dans wanneer ek die liedjie hoor en ek hoop wanneer dit speel, sit die enkelsnit ’n groot glimlag op jou gesig,” sê sy.

Scholtz het ’n opwindende jaar agter die rug met onder meer ses vertonings by Innibos, ’n optrede by Weiveld, asook drie suksesvolle radiovrystellings – “Sommer”, “Mis” en “Iemand”.

Sy beskou die vrystelling van haar nuutste musiekvideo as ’n groot hoogtepunt en beplan nog baie groot dinge vir die toekoms.

“Ons het van vroegoggend tot middernag aan die video geskiet en dit was uit-en-uit die moeite werd. Ek hou daarvan om my eie konsepte uit te dink en my eie kreatiwiteit te gebruik, en Gerhard het my mooi aangevul waar nodig,” vertel die ster.

Alhoewel sy met ’n paar blase op haar voete weggestap het, is die eindresultaat perfek, en sal “Iemand” se musiekvideo aanhangers weer van vooraf laat verlief raak op Scholtz se besonderse talent.

Gaan kyk die video hier:

Sosialemediaskakels:

Facebook: https://m.facebook.com/GeraldineMusicSA/

Twitter: @geraldineS02

Instagram: @geraldine_scholtz

YouTube: https://www.youtube.com/channel/UCt28Dxj28HQswt4zdHyTiEw?app=desktop

Pinterest: https://za.pinterest.com/geraldinescholt/

Webblad: www.geraldinescholtz.com

PJ Pretorius se debuut-enkelsnit “12 uit 10” is uiteindelik hier!

Die sanger PJ Pretorius, wat naam gemaak het tydens die tweede seisoen van die gewilde M-Net sangkompetisie, The Voice SA, het pas sy eerste enkelsnit uitgereik en beloof om alle verwagtinge te oortref.

Dié pop-rock liefdesliedjie, wat “12 uit 10” heet, is uit die pen van Renier Bester en gaan oor ’n jong man wat dol is oor ’n meisie wat nie in haarself glo nie en dit sy doel maak om haar te laat besef dat sy eintlik beter as die norm is vir hom.

“Daar is soveel juweel-mense daar buite wat net nie glo dat hulle goed genoeg is nie. Dit is ’n bogstorie, want vir elkeen is daar ’n maat wat glo en voel dat hulle die beste en mooiste is,” vertel die sanger.

Pretorius sê dat hy juis op dié liedjie besluit het omdat hy ’n boodskap wil tuisbring by mense dat elkeen goed genoeg is en dat almal iets werd is.

“Ek dink die publiek gaan dit geniet en maklik daarmee kan vereenselwig, juis omdat elkeen van ons maar met ons insecurities loop.”

Die liedjie, wat nie net ’n mooi boodskap bring nie maar ook ’n lekker wysie het, sal sommer gou in jou kop vassteek en Pretorius sê hy wil hê dat die luisteraar lekker, gemotiveerd en geïnspireerd voel.

’n Musiekvideo vir die liedjie, wat deur Luther van der Watt van AVC Studios opgeneem gaan word, is ook in die pyplyn, maar hieroor wil Pretorius nie veel meer verklap nie.

Pretorius (27) van Secunda se liefde vir musiek het in sy ouerhuis ontstaan, waar hy gereeld saam met sy ma en suster gesing het.

In 2013 het hy as bedieningsleier by die kerk aangesluit en hy is vir die afgelope drie jaar aktief betrokke in die musiekbedryf.

Die sanger som sy stem en styl op as uniek met diepte en vertel dat hy nie oor iets spesefiek skryf nie, eerder oor iets wat sy hart roer.

“Ek is ’n softy vir ballads, enigiets wat jou hart roer. Dieselfde kunstenaars wat my inspireer se werk het maar ’n invloed gehad op my musiek,” sê hy.

Kunstenaars soos Elvis Blue, Jesse Jay en Riana Nel inspireer hom en hy sal graag eendag saam hulle wil werk. Sou musiek egter nie vir hom beskore gewees het nie, sou hy graag ’n sjef wou wees en vertel dat dit baie ontspannend is.

“Jy kry ook kans om iets te skep. Natuurlik is ek ook lief vir lekker eet.”

Sy gunsteling-musiekaanhaling deur Johan Kelber lui as volg: “Music is the closest humans come to touching divinity.”

En volgens die sanger het die musiekbedryf hom geleer dat niks verniet kom nie.

“Dit behels baie harde werk en dryfkrag van jouself af. Dit is van absolute kardinale belang om ’n sterk wenspan te hê wat agter jou staan.”

En wat weet sy aanhangers nie van hom nie?

“Ek het nie ’n gunsteling kleur nie, dit wissel gedurig,” skerts hy.

Hy is eintlik ook ’n introvert en het ’n fobie vir te min mense. Verder vertel hy dat hy meer in homself moet glo. Pretorius sonder sy tyd onder die topses van The Voice SA seisoen twee en sy album uit as die grootste hoogtepunte in sy loopbaan tot dusver.

Behalwe vir ’n eerste enkelsnit, kan aanhangers van Pretorius ook gereed maak vir ’n album.

“Ek is besig met my album wat vroeg volgende jaar vrygestel gaan word en alles daar rondom. Verder probeer ek ook soveel as moontlik van my aanhangers gelukkig hou deur by soveel as moontlik plekke op te tree,” sluit hy af.

‘Hartlagsiel’ is hier van Burgerd Botha

Burgerd Botha se debuut solo-album, Hartlagsiel, is ’n pragtige kombinasie van ligte akoestiese popmusiek, hartroerende ballades en interessante elektroniese klanke en is in April vanjaar uitgereik.

Enkelsnitte soos “As jy nog twyfel”, “Hartlagsiel” en “Die Sterre” het gesorg dat Botha se stem oor die afgelope paar maande gereeld oor die radio gehoor kon word en het ook op radiostasies se trefferparades landswyd stelling ingeneem.

Sy musiek nooi jou uit om saam te sing en diep te dink oor die lewe en die liefde en sy nuutste enkelsnit, “Deur Vuur Getemper”, stel nie teleur nie.

“Elke mens gaan op een of ander tyd in hulle lewe deur ’n traumatiese tyd. Dit is onvermydelik. Wat wel belangrik is, is om na die omstandighede te kyk as slegs ’n fase wat jou suiwer en dat dit jou gaan vorm om sterker te word. Dit is die simboliek agter die liedjie en vandaar ook die titel, Deur Vuur Getemper,” sê Botha.

Hierdie nuwe enkelsnit en die musiekvideo vir hierdie enkelsnit is beide gister bekendgestel.

Die musiekvideo is deur Christiaan Wolf van Brickwolf vervaardig en op ’n afgeleë area in Gauteng geskiet.

“Aan die begin van die video wys dit hoe dit dalk mag lyk asof ek alles verloor het. Deur die loop van die video wys ek hoe ek opstaan en myself nie laat definieer deur die ervarings wat ek gehad het nie. Ek skud die stof van my af en beweeg aan om my doel op aarde te bereik soos my Hemelse Vader dit vir my beplan het,” sluit Botha af.

Kyk die video hier:

Die album is op die volende digitale platforms beskikbaar:

iTunes: https://itunes.apple.com/us/album/hartlagsiel/1372598733?app=itunes&ign-mpt=uo%3D4

Google Play Music: https://play.google.com/store/music/album/Burgerd_Botha_Hartlagsiel?id=Bhfyeuw63xyf2ypsg7vybi5ctzu

Amazon: https://www.amazon.com/gp/product/B07C6X4BBN

Sosialemediaskakels:

Facebook: https://www.facebook.com/BurgerdBothaMusiek/

Twitter: @burgerdbotha

Instagram: @burgerdbotha

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

Related Articles

Back to top button