Wat is nuut op die Suid-Afrikaanse musiek horison?

Kyk watter treffers is nuut op Suid-Afrikaanse rakke.

Heuning, een van die land se mees geliefde country-groepe, het besluit om weg te breek van hul kenmerkende country-styl met ’n splinternuwe enkelsnit, Die Lied Wat Skree, wat beskryf kan word as ’n kontemporêre popliedjie. Aanhangers is absoluut gaande oor die eindresultaat, wat pas vrygestel is, en reeds besig is om die radiogolwe oor te neem.

Die Lied Wat Skree se wysie is gebaseer op ’n bestaande Eurovision-liedjie (deur Mihai Alexandru en Alexandra Niculae) waarvoor die duo die regte bekom en Jeanette nuwe lirieke geskryf het. Dit gaan daaroor om jou drome te volg en sluit selfs ’n lekker stukkie jodel in as ’n ekstra verrassingselement.

“Ons kan absoluut vereenselwig met die liedjie en glo dat elke mens op ’n stadium op ’n plek kom waar hy of sy moet kies om op te staan en weer te probeer. Daar is ook ’n gedeelte in die liedjie wat lui: ‘As jy glo, staan op en kyk na bo,’ wat vir ons baie beteken,” vertel die musiekpaar.

“Ons hoop die publiek gaan daarvan hou, maar al kan ons net in een persoon se lewe ’n verskil maak met die liedjie, sal ons baie bly wees.”

’n Musiekvideo van dié treffer word einde Oktober vrygestel en is deur Johan van Vuuren verfilm by Laerskool Stephanus Roos en Hoërskool Hartebeespoort.

“Ons wou graag passie uitbeeld en het besluit om op atletiek te fokus. Ons het ’n klein seuntjie gekry en sy karakter het ’n groot passie vir hoogspring. Die video wys hou hy, as klein seuntjie, probeer maar dit nie regkry nie en hoe hy hard werk en uiteindelik by ’n byeenkoms oorspring en wen,” vertel die groep.

“Beeldmateriaal is oor drie dae verfilm en wat dit vir ons anders maak, is dat ons self baie betrokke was by die hele storielyn en die vervaardiging daarvan.”

Die Lied Wat Skree is die tweede vrystelling vanaf hulle nuwe album wat later vanjaar op die rak gaan wees. Maatstaf Vir My Hart, wat in April 2018 uitgereik is, is baie goed ontvang en het bo-aan die treffersparades van verskeie radiostasies en televisiekanale gepronk – waaronder Bosveld Stereo (107.5) waar dit die nommer een posisie op die Top 20 bekleë het.

Die snit, wat deur Vaughan Gardiner geskryf is, kombineer ’n lekkerluisterwysie met hoendervleismooi lirieke en steek in jou kop vas lank nadat jy dit vir die eerste keer gehoor het.

Heuning, wat bestaan uit Jeanette Pretorius en Hansie Roodt, het bekendheid verwerf vir hulle unieke moderne country-popstyl wat aanklank vind by oud en jonk. Die groep se selfgetitelde debuutalbum is in 2012 uitgereik en was onmiddellik ’n treffer.

Nie net het dit in 2013 ’n Ghoema-toekenning vir Beste Country-album en ’n Huisgenoot Tempo-benoeming vir Beste Nuweling opgeraap nie, maar ook talle radiotreffers opgelewer, waaronder As ek Val, Bietjie Langer Bly, Drome, Skree en Ek Wil Met Jou Dans, asook talle suksesvolle musiekvideos wat vandag nog op die kassie te sien is.

Die vrystelling van hul album, Drome, in 2015 het vir hulle die geleentheid gegee om by die Crystal Palace in Bakersfield, Kalifornië, te gaan optree.

Nadat een van die oorspronklike groeplede, Henk Dercksen, in 2016 besluit het om Spanje toe te gaan was die musikantpaar steeds so in aanvraag dat Jeanette besluit het om die duo vir ’n lewendige orkes te verruil wat baie goeie aftrek gekry het. Hansie, wat op daardie stadium vir die orkes baskitaar gespeel het, het egter so goed ingepas as gevolg van sy talent en veelsydigheid dat daar besluit is om weer terug te keer na die groep se oorspronklike formaat.

Om mense se harte en lewens aan te raak met hulle musiek, is dié talentvolle alternatiewe country-duo se grootste doelwit en tot dusver kon hulle dit baie goed regkry. Met Die Lied Wat Skree word Heuning se genre-horisonne nie net verbreed nie, maar bewys hulle ook dat dit moontlik is om iets uitsonderlik te skep in ’n musiekstyl wat soms geneig is om gewoon te wees.

Sosialemediaskakels:

Facebook: https://www.facebook.com/Heuning

Twitter: @HeuningOfficial

Instagram: @heuningband

YouTube: https://www.youtube.com/user/HeuningTelevisie

Mariska stel tweede enkelsnit bekend

Mariska se eerste enkelsnit en haar debuut-album, Dankie is vroeër vanjaar uitgereik en spog tans met die Nr. 1 posisie op Bosveld Stereo se Top 20.

Nou, gedurende Oktober 2018 word die tweede enkelsnit vanaf haar album uitgereik. Dié enkelsnit, getiteld Versekerseker is ‘n pragtige verhaal wat handel oor ‘n baie mooi vriendskapsverhouding tussen man en vrou.

“Die vrou besef sy voel meer vir hierdie man as net goeie vriende en is opsoek na sekerheid en vastigheid in hulle verhouding. Sy wonder waarheen die verhouding gaan lei en ook of hy dieselfde wil hê uit die verhouding. Sy wil graag hê dit moet ontwikkel in iets meer ernstig en in die lied vertel sy vir hom hoe sy voel”, gesels Mariska oor haar tweede enkelsnit waarvan die musiekvideo ook eersdaags bekendgestel sal word.

Haar album, wat hoofsaaklik oor die verskillende fasette van die liefde gaan, het ’n kontemporêre popklank en is die resultaat van ses jaar se harde werk. Dit spog met twaalf oorspronklike treffers, uit die penne van bekende liriekeskrywers soos Vaughan Gardiner, Johan Oberholzer en Rudi Claase, wat wissel tussen opgewekte lekkerluisterdeuntjies en dieper hartsmusiek met ’n meer klassieke aanslag.

Mariska het op ’n plaas net buite Hoedspruit grootgeword en is reeds vandat sy vyf jaar oud is in vervoering met klassieke musiek. Sy het begin met sanglesse toe sy in graad 1 was en het daarna ook vinnig instrumente soos die klavier, viool en klawerbord bemeester, waarvoor sy ’n hele string toekennings verwerf het by die Eisteddfod in haar matriekjaar.

Wanneer sy nie op die verhoog is nie, is sy hard besig met haar BA Sielkundegraad en meen dat sy ’n beroep in musiekterapie sou oorweeg het as sy nie self kon sing nie.

Liedjies op die album:

1. Dankie

2. Ek Speel Ons Liedjie

3. Woestyn

4. Exodus

5. Versekerseker

6. Van Vooraf Begin

7. Hardloop Weg Saam My

8. Blomme In My Hart

9. Hoofrol

10. Seisoene

11. Ek Gee Jou My Hart

12. Vrede

Sosialemediaskakels:

Facebook: https://www.facebook.com/mariska.sa

Twitter: @mariska_sa

Instagram: @mariska.sa

YouTube: https://www.youtube.com/user/MARISKAMUSIEK

Webblad: www.mariska.co.za

Heuning. Foto: Facebook

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version