Musiektreffers vir die week

Valeska Muller is besig om golwe in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf te maak.

Valeska Muller stel nuwe pop-danssnit vry

Valeska Muller is een van daardie kunstenaars wat jou laat stilstaan wanneer jy haar vir die eerste keer hoor sing. Daar is iets uniek omtrent haar stem en musiekstyl wat jou aandag trek en in jou kop bly vassteek lank nadat jy haar sien optree het. Dit is dan ook hierdie eienskappe wat haar nuutste enkelsnitvrystelling so aanloklik maak.

Verdwaal Saam Met Jou is ’n moderne popmusiekverwerking wat selfs die kritieste oor sal beïndruk.

Hierdie opgewekte dansnommertjie, wat sy saam met Tertius Jacobs en Sean Butler geskryf het, gaan daaroor om weg te breek van die stad se geraas en tyd te spandeer saam met die persoon vir wie jy lief is.

“Dit het ’n goeie boodskap en lekker gees,” verklap die talentvolle musikant en liedjieskrywer oor haar sesde enkelsnitvrystelling.

“Jy kan dans daarop, of net rustig na die liedjie sit en luister. Enigiemand wat van moderne popmusiek hou sal aanklank vind en moet dit hoor,”

“Verdwaal Saam Met Jou beteken baie vir my, want ek assosieer met my musiek en kry nou die geleentheid om dit met die wêreld te deel. Ek is gelukkig om betekenisvolle lirieke te kan skryf waarop ek trots is. Die klank is nuut en vars op mense se oor, so ek glo hulle sal daarvan hou.”

’n Musiekvideo van dié treffer sal ook eersdaags uitgereik word.

Valeska was al mal oor musiek vandat sy as baba nader aan die radio gekruip het om beter te hoor.

As kind, moes sy baie tussen weermagbasisse rondttrek saam met haar ouers en pas maklik aan in nuwe omstandighede. Sy het reeds vandat sy nege is privaat-onderrig in die kunste ontvang en was vyftien toe sy, as een van die hoofsangers van haar skoolkoor, vir die eerste keer by die Staatsteater in Pretoria opgetree het. Haar eerste kabaretvertoning was by die Moonbox Theatre toe sy sestien was.

Die musikant, wat al negetien jaar in die musiekbedryf werk, sonder haar deelname aan die musiekrealiteitsprogram, Zing, uit as een van die hoogtepunte van haar loopbaan.

Sy meen dat haar plek in die Top 7 van die kompetisie vir haar baie deure oopgemaak het. ’n Tragiese ongeluk, gedurende ’n mediageleentheid vir die verhoogproduksie Sexy and the City, het amper haar droom verwoes, maar opgee was nie vir haar ’n opsie nie.

Oor die jare het sy by verskeie funksies en groot feeste opgetree, waaronder ’n vertoning vir Koning Swandile by die Royal Swazi Sun, Aardklop, Innibos, Aartappel Fees, KKNK en vele meer.

Sy het al liedjies geskryf saam met RJ Benjamin, Christiaan Kritzinger, Crighton Goodwill, Drago Blaskovic, Bradley Africa, Sean Butler, Tertius Jacobs en André Scheepers. Die groep, Rain on Mars, waarvan sy deel was het ook verskeie radiotreffers op Highveld Stereo en 5FM gehad.

In 2017 het sy ook drie baie suksesvolle Engelse enkelsnitte vrygestel, Not Again, Keep Up en Tell Me Why, wat op verskeie platforms soos iTunes, Amazon, Spotify en YouTube beskikbaar is.

Wanneer sy nie sing nie, bestuur sy haar eie musiekskool, Valeska Muller Vocal Academy (VMVA), en is sy ook gedurig besig om haarself verder in verskeie aspekte van musiek en besigheid te bekwaam. Verder het sy ook ’n BCom-graad in Besigheidsbestuur aan Unisa verwerf, ’n DIVAS-sangkursus voltooi, via Skype, by die Ken Tamplin Vocal Academy in Amerika en was sy deel van die realiteitsprogram, Sugarushed.

Valeska het ook, gedurende haar loopbaan, ondervinding in verskeie areas van die vermaakbedryf opgedoen en het op ’n stadium as projekbestuurder by Phoenix Films gewerk, as vloerbestuurder by Kitchen Bar in Fourways, as publisiteitsbestuurder en funksiekoördineerder by Coco-Bongo Montecasino en as verkoopsbestuurder by Mad Robot.

Die kunstenaar hou van ’n wye verskeidenheid musiek en luister al van jongs af na haar pa se langspeelplate.

“Ritme en melodie inspireer my. Daar is so baie verskillende style en kunstenaars waarna ek luister, maar soms vind ek inspirasie in die sang van ’n voëltjie of die ritme van die reën. Ek sal graag nog eendag saam met musikante soos Max Martin en Sia wil werk,” vertel sy.

As jy haar vra waar sy die inspirasie vir haar lirieke vandaan kry, antwoord sy dat dit meestal uit haar eie lewe kom.

“Ek skryf gewoonlik oor ’n situasie waarin ek myself bevind het en kry inspirasie van daai spesifieke oomblik en gevoel en probeer dit dan vaspen en vassing in ’n liedjie,” sê sy.

Daar is baie ander drome en planne wat sy nog eendag wil verwesenlik, wat haar eie opname-ateljee en platemaatskappy insluit, waarmee sy graag jong opkomende kunstenaars wil help ontwikkel.

Verdwaal Saam Met Jou het ’n opgewekete en ritmiese deuntjie wat verweef is met interessante elemente en klanke, asook ’n indrukwekkende stem wat nie net van Valeska Muller ’n huishoudelike naam in dans- en kuierplekke gaan maak nie, maar ook die treffersparades van die land se grootste radiostasies gaan oorheers.

Sosiale media-skakels:

Facebook: https://www.facebook.com/ValeskaMullerSinger/

Instagram: @valeskamuller

Twitter: @Valeskamuller

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button