KOMPETISIE: VIDEO: ‘Deeg sjef deur die dag en opera-sanger deur die nag’ gesels met Rekord

Charlotte Kilian vertel van haar kleurvolle geskiedenis in die klassieke musiek industrie.

Sy word na ’n ‘moeder van opera’ in die industrie verwys deur haar vriendinne, en sy is ’n gesoute deeg-sjef wat koeke, gebak en heerlike kos aan verskeie restaurante, hotelle en besighede verskaf. By dit, het sy vir vyf jaar in Italië opera musiek gaan studeer.

Charlotte Kilian is ’n bedrywige en uiterse intelligente sangeres in Pretoria wat vanjaar by Kraakvars Classics betrokke gaan wees.

“Opera is ’n ingewikkelde musiekvorm, jy sing soms in ander tale, baie min kere in jou eie taal, so ek het van jongs af aanklank gevind by opera musiek wat in Italiaans gesing word. Om beter te verstaan wat ek sing het ek besluit dat ek die taal moet leer en het goedgedink om by die Italiaanse ambassade te hoor hoe ek ’n beurs kon kry.

“Uiteindelik, nadat ek gedreig het om op die grasperk te staan en sing tot ek ’n beurs kry, het hulle ingegee, en ek het my vyfjaar graad in opera musiek in Alessandria voltooi,” verduidelik Kilian.

Daar het Kilian kamer-operas gesing, sy verduidelik dat haar groep so ver soos Duitsland en Denemarke gereis het om op te tree.

“Ná my studies het ek teruggekeer Suid-Afrika toe, en daar het my loopbaan begin toe ek betrokke raak by die Johannesburg Philharmonic Orchestra.”

LEES OOK: KOMPETISIE: VIDEO: Helena Ceronio praat Kraakvars Classics en liefde vir die lewe

“Om te sing in Kraakvars Classics is ’n eer. Ek doen dit graag, dis vir ’n goeie doel. Dit is saam met professionele mense, wie ek respekteer.”

“Om in ’n klassieke konsert soos hierdie op te tree is moeiliker as meeste ander optredes. Daar is natuurlik reëls, maar dis nogal spesiaal as die dirigent, wat Schalk van der Merwe is, saam met die orkes wat Capital Philharmonic Orchestra is, kan saamwerk om die orkes mooi saam met jou af te bring. Mens kry dit min.”

Een van die grootste uitdagings in die klassieke musiek industrie, is verseker die tyd om daaraan te spandeer.

“Ek is mal daaroor om klassieke musiek te sing. Maar mens kort heelwat tyd om dit te oefen. Dis soos om ‘n atleet te wees, mens moet konstant die spiere, brein en die liggaam en hoe alles met mekaar bind, aan die gang hou.”

Kilian verduidelik dat sy mal is oor ’n uitdaging. Sy staan nie terug vir ’n moeilike lied nie, en omdat sy so lief is vir sing, is dit een van die lekkerste dinge om musiek te leer wat ’n uitdaging is.

Charlotte sien uit om haar storie, saam met dié van elk van die ander vyf sangers, by Kraakvars Classics te deel.

LEES OOK: KOMPETISIE: VIDEO: Kraakvars Classics – ‘n moderne meesterstuk vir jonk en oud

Kraakvars Classics sal in die Choose Life Ouditorium plaasvind op 26 Augustus om 16:00.

Kaartjies is te koop by Ds Danie van Rensburg en hy kan gekontak word op 083-289-1869 of danievr@lantic.net.

Kaartjie beloop R200 – R250.

Video:

KOMPETISIE:

Kry die kans om een van twee dubbelkaartjies te wen om hierdie vertoning by te woon. Om in te skryf vir die kompetisie, vul die onderstaande kompetisie vorm in en gebruik KRAAKVARS CLASSICS as die sleutelwoord.

Related Articles

Back to top button