KOMPETISIE: Wen kaartjies na die ongelooflike I can Only Imagine rolprent

Hierdie lewensveranderende verhaal, wil jy nie misloop nie.

I Can Only Imagine, die multi-platinum gospeltreffer deur die Christelike rockgroep MercyMe het, sedert dit in 2001 vrygestel is, die harte van miljoene mense regoor die wêreld verower.

Nou gaan dit verder bekoor, want die regisseurs van Mom’s Night Out en Woodlawn, Jon en Andrew Erwin (Erwin Brothers), en vervaardiger Kevin Downes (Courageous) het kragte saamgespan om die besonderse storie agter hierdie enkelsnit lewe te gee op die grootskerm en sodoende hoop te gee aan diegene wat dit nodig het.

Die idee vir die liedjie is deur voorsanger, Bart Millard, se lewe geïnspireer en is geskryf jare nadat hy sy eie gewelddadige kinderlewe moes verwerk.

Dit het onmiddellik aanklank gevind by gehore van alle ouderdomme, was ’n kitstreffer en het Dove-toekennings ontvang vir Liedjieskrywer van die Jaar en Liedjie van die Jaar.

Dit is die enigste gospelliedjie wat nog ooit dubbel-platinumstatus bereik het.

“Ons was besig om ’n onafhanklike album op te neem en het ’n liedjie gekort. Ek het letterlik deur my joernaal geblaai, opsoek na ’n skoon bladsy, maar daar was letterlik oral ‘I Can Only Imagine’ geskryf,” deel Bart.

“Ek het dit as ’n teken gesien en die lirieke op die bus geskryf een aand. Dit het sowat vyf minute gevat, maar dit was al vir baie lank in my hart.”

I Can Only Imagine (die rolprent) vertel die storie van ’n klein seuntjie in Texas wat emosioneel en fisies deur sy pa (Dennis Quaid) mishandel en deur sy ma verlaat word. Die mishandeling begin nadat sy pa ’n breinbesering opdoen as gevolg van ’n ongeluk by die werk en beheer oor sy emosies verloor.

Hy word ’n monster wat nie sy woede en teleurstelling in die lewe kan beteul nie. Deur God se genade kry Bart (John Michael Finley) en sy pa dit reg om hulle verhouding te red en ervaar hy eerstehands hoe kragtig geloof en verandering kan wees.

Broadway-ster, John Michael Finley’s (Les Misérables, Sweeney Todd), maak sy debuut as rolprentakteur in die hoofrol van Bart Millard in hierdie emosionele fliek. Alhoewel dit hoofsaaklik sy stem was wat aan hom hierdie belangrike rol besorg het, het sy agtergrond ook baie gehelp om sy karakter nog meer outentiek te maak.

“Ek is in Arkansas gebore en het in die suide van Missouri grootgeword, so ek het ingepas by die karakter se manier van dink,” sê Finley.

“Ek en Bart het albei dinge in die verlede ervaar wat ons vinnig volwasse gemaak het en ek vind aanklank by die manier waarop Bart humor gebruik om mense van plan te laat verander.”

Bekroonde akteur, Dennis Quaid speel Arthur, Bart se pa, wie se drome verpletter is en wat sy seun teen soortgelyke teleurstellings wil beskerm, al beteken dit dat hy dan geen drome oorhet nie.

Die fliek sluit verder ook puik vertonings in deur die model en televisiester, Madeline Carroll, as Millard se vrou Shannon, asook Golden Globe-wenner, Cloris Leachman, in die rol van Memaw.

I Can Only Imagine is ’n aangrypende verhaal oor die krag van vergifnis en ’n pragtige voorbeeld van hoe niemand ooit te vêr van God se liefde – of die ewige tuiste in die Hemel – is nie.

“Ek is baie opgewonde daaroor om die prent vir mense te wys wat nie die storie ken nie,” verduidelik vervaardiger Kevin Downes.

“Ek glo dat dié treffende storie hoop gaan bring aan mense regoor die wêreld.”

Hierdie inspirerende rolprent word deur Ster-Kinekor Entertainment versprei en sal vanaf 11 Mei 2018 in Suid-Afrikaanse bioskope te sien wees.

Lokprent:

KOMPETISIE:

Op 9 Mei 2018 is daar ‘n eksklusiewe voorskou van hierdie rolprent by Ster-Kinekor Brooklyn. Rekord het vyf dubbel kaartjies om weg te gee.

Kompetisie sluit 7 Mei 2018.

Om in te skryf vir die kompetisie, vul die onderstaande vorm in en gebruik die word ‘IMAGINE’ as die sleutelwoord.

 

Exit mobile version