Vier die liefde met hierdie lekker-lees titels

Die maand van liefde is om die draai en hierdie splinternuwe romanzas is net wat jy nodig het om die liefde te laat blom.

Hartewens deur Madelie Human

Hartewens is ’n samestelling van drie van Human se vorige romanzas, Onwelkome geskenk, Handomkeer en Le Fleur se hartebreker.

Onwelkome geskenk

Marile Cronjé se buitengewone verjaarsdaggeskenk is alles wat sy nié wou gehad het nie, want van haar oupa se gekonkel het sy nou net mooi genoeg gehad. Boonop moet sy die lewe se donker kant leer ken met die oog op ’n erflating wat sy nog minder wil hê.

Kan sy die aantreklike, enigmatiese Werner vertrou? Is hy nie net nog een van die vele wat agter haar geld aan is nie?

Sy kry die antwoord klinkklaar in oupa Jopie se brief, maar besef kort voor lank dat haar vooroordele haar insig verdof het.

Eers toe sy werklik na haar hart luister, kan sy haar regmatige verjaarsdaggeskenk – én geluk – opeis.

LEES OOK: KOMPETISIE: Wen vakansie leesmateriaal

Handomkeer

Om uit Johannesburg se agterstrate te kom en jou pad oop te veg tot jy een van dié wynmakers in Suid-Afrika is, sit nie in enige meisie se klere nie. Maar dit is wat Bea regkry.

Dit is egter nie ’n baie goeie begin as mens jou nuwe werkgewer op straat byloop en so te sê aanrand nie. Maar dit was tog net ’n misverstand. Gaan hy nou vir altyd so stuurs wees en haar met so min dinge vertrou?

Gelukkig is haar baas toe nie so befoetered nie en die man verander handomkeer.

Le Fleur se hartebreker

Vir hierdie man moet sy ligloop, dit weet Jannelie sommer in die eerste week wat sy as Le Fleur se gastehuisbestuurder begin werk.

Sy reputasie as dié hartebreker in die Franschoekvallei het hom immers vooruitgeloop. Boonop weet hy dit dalk nie, maar hierdie wynplaas is glad nie vir haar onbekende terrein nie.

Baie gou blyk dit dat sy nie verniet op haar hoede was nie. Trouens, hy gaan met haar ’n weddenskap aan dat sy voor oestyd verby is, nog een van die vrouegesigte in sy berugte album sal wees!

Hartewens is beskikbaar teen R210 by uitgesoekte boekwinkels regoor die land, LAPA Uitgewers.

Meer oor die skrywer:

Madelie Human is een van Afrikaans se gerekende romanseskrywers en het al meer as 130 000 boeke verkoop. Sy skryf oor die ligter kant van die liefde en daarom is haar romantiese komedies so uiters gewild.

LEES OOK: Carltonbeker draaiboek hou by boeiende spanningslyn

Rose vir Roselle deur Rosita Oberholster

’n Ontroue verloofde en haglike finansies bring Roselle terug na die familieplaas wat hare sal word wanneer haar twee tantes die dag nie meer daar is nie.

Terug hier op La Roseraie lyk dit nie asof die spog roosplaas so winsgewend is as wat haar tantes haar laat verstaan het nie. Dalk was dit, maar nou kort die plaas ’n ferm hand. Droogtes het hul tol geëis en mense haal nie meer so baie geld vir hierdie eksotiese blomme uit nie.

Om alles te kroon, het haar tantes ’n swerwer wat vir kos en verblyf werk, ingeneem. Roselle vertrou hom nie. Wie is hy en waar kom hy vandaan? Wat soek hy hier? Haar tantes weet nie en hy weier om haar te sê toe sy hom direk vra.

Rose vir Roselle is ’n meer verwikkelde, langer romanse wat gekenmerk word deur sterk verhoudings en karakters.

Die skrywer het probeer om nie net op die ontwikkeling van die broodnodige romanse tussen die hoofkarakterste fokus nie, sy het ook ’n paar verrassingselemente ingewerk om lesers se lekker te laat vermenigvuldig.

Rose vir Roselle is teen R210 by uitgesoekte boekwinkels regoor die land beskikbaar, LAPA Uitgewers.

Dit is Oberholster se eerste superromanza.

Rose vir Roselle is geskryf ter nagedagtenis aan die skrywer se babasussie wat net sewe weke oud geword het – haar naam was Roselle. Die baba se graf dra die inskripsie “Laat die kindertjies na My toe kom”… en word ook in die boek genoem.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button