KOMPETISIE: Lekker leesboeke vir jou kinders

Twee lesers staan ’n kans om elk een van hierdie titels te wen.

Die opwindende Desembervakansie lê voor, en as jy nie weet hoe om jou tieners en klein rakkers besig te hou nie, hoekom skryf jy nie maar vir hierdie kompetisie in nie?

Rekord het ’n lang reeks kinderleesstof om weg te gee. Hierdie is jou kans om jou tieners en kleintjies aan die lees te kry met interessante leesmateriaal, eerder as om hulle voor die televisie te laat vrot.

Die titels lyk soos volg:

Kupido.com

deur Annabel Allers

Ouderdom: 13+

R150.00

Is jy gereed om die liefde van jou lewe te ontmoet? Waarvoor wag jy? Sluit dadelik aan! Léa kan dit nie help nie – die hoofseun, Philip Cronjé, laat haar hart tjoklits klop. Philip is ’n regte Romeo. Hy het bruin oë, hy is slim en aantreklik… en hy het ’n meisie. Nie dat dit regtig saak maak nie, want Léa weet ’n ou soos Philip sal nie eens twee keer na ’n vaal, vervelige meisie soos sy kyk nie. Maar dan skep haar beste vriendin, Kaylie, vir haar ’n vals profiel op Kupido.com, ’n kletskamer waar jy veronderstel is om die liefde van jou lewe te ontmoet.

Kort voor lank is daar iemand wat met Léa wil gesels – Philip! Daar is net een probleem: Die meisie op die profiel het rooi hare, sy is ’n bikinimodel in haar vrye tyd, en sy is baie avontuurlustiger as Léa. Hoe lank sal Léa dit regkry om Philip te flous? ’n Snaakse, romantiese debuutroman vir tieners deur ’n opwindende jong, nuwe skrywerstem in Afrikaans!

Die leeutemmer se assistent

deur Solet Scheeres

Illustrasies: Marjorie van Heerden

Ouderdom: 9+

R150.00

Niks opwindends gebeur ooit op Kraaipan nie. Veral nie met Martjie wat in ’n eenvoudige huisie op die plaas Rietfontein net buite die dorp bly nie. Toe Bertus Botha egter vir Martjie uitdaag om op die Mafikeng-trein te klim en te loer wat in een van die kratte is, begin ’n reuse-avontuur: Martjie beland pens en pootjies saam met ’n sirkusleeu op een van die trokke. Sy leer ken die eksentrieke sirkusbase, Mister en Madame Pagel, en die ander artieste van Pagel se beroemde sirkus. Mister Pagel is die sterkste man in die wêreld en druk tydens die vertonings sy kop in ’n leeu se bek. Madame Pagel ry bank toe met ’n leeu langs haar in die motor.

Martjie-die-bywoner-se-dogter se lewe sal nooit weer dieselfde wees nie. Hierdie opwindende verhaal is losweg geskoei op die geskiedenis van die Pagelsirkus, wat in die vorige eeu alombekend was in Suid-Afrika.

Daar’s nie ’n krokodil in hierdie boek nie

Jaco Jacobs

R130.00

Maak nie saak hoe hard jy soek nie – daar’s nie ’n krokodil in hierdie boek nie. So sê die woorde. Die prentjies vertel ’n ander storie! Daar is wel ’n mooi prinses, ’n dapper prins, ’n boontjierank, ’n reus, ’n ouma, ’n wolf, drie bere en ’n Goeie Fee. Maar ’n krokodil? Nooit! Dis wat die ouers sal lees, maar slim kabouters sal baie pret hê om die teendeel uit te wys! In hierdie prettige, rymende prenteboekavontuur word die leser aan ’n klomp bekende en geliefde sprokieskarakters voorgestel – maar iets is nie heeltemal pluis nie…

Waarom is Aspoestertjie se voet so skubberig terwyl die prins die glasskoentjie probeer aanpas? Hoekom lyk dit asof Gouelokkies ’n lang groen stert het terwyl sy by die Drie Bere se huis insluip om aan hul pap te proe? En waarom is Rooikappie se ouma se vel so groen en vol skubbe? Die boek is ’n móét vir enige liefhebber van lees – veral as jy nie van krokodille hou nie!

Hoezit 13: Die wonderwêreld van seelewe

Jaco Jacobs en Fanie Viljoen

R80.00

Ontdek ons oseane met hierdie boek propvol feite en aktiwiteite! Maak van naderby kennis met van die vreemdste visse in die oseaan, verken die wonderwêreld van dolfyne, en ontmoet ’n paar van die gevaarlikste gediertes wat in die see bly!

KOMPETISIE:

Twee lesers staan ’n kans om elk een van hierdie titels te wen. Om in te skryf vir die kompetisie, vul die inskrywingsvorm in en gebruik die sleutelwoord ‘KINDERBOEKE6’.

Related Articles

Back to top button