KOMPETISIE: Wen vakansie leesmateriaal

Liefde is in die lug met hierdie romantiese verhale op ons lys.

Is jy ’n “sucker” vir sappige liefdesverhale hierdie feesseisoen?

Skryf dadelik in vir hierdie kompetisie sodat jy ’n kans kan staan om groot te wen by Rekord.

Wat kan nou lekkerder wees om by die strand te rus hierdie vakansie, en van die tyd gebruik te maak om op te vang op indrukwekkende leesstof?

So lyk die titels:

’n Man vir altyd

deur Marilé Cloete

R200.00

Drie mans en drie vroue … In Marilé Cloete se Romanza-omnibus, ’n Man vir altyd, moet ses harte verower word. Die drie Romanzas in die omnibus is Man van min woorde, Man met ’n missie en Man van sy woord.

Man van min woorde: Hy kan toor met honde en rekenaars, maar as dit by praat kom, verdamp Henri van der Merwe se woorde. Francesca is vasbeslote om deur dié swygsaamheid te breek. Sy begeer een van die Duitse herdershonde wat hy teel, maar die toets vir eienaarskap dop sy soos ’n klip.

Haar selfbeeld is hoeka bitter broos ná die Siebert-episode. Bowendien word haar frustrasie by die dag groter. As sy en haar galery-huis vol kunswerke nie goed genoeg is vir sy honde nie, sal sy in der ewigheid nie goed genoeg wees vir hul baas nie. Want helaas, sy begeer die swygsame Henri mettertyd baie, baie meer as sy lieflike honde.

Man met ’n missie: Hy gaan haar nader trek, syne maak – suutjies, sonder dat sy dit weet. Maar Lukas Bezuidenhout is ’n haastige man, geduld moet hy nog aanleer. Dis gewoonlik hý wat vir meisies weghol, maar dié keer het hy sy moses teëgekom. ’n Harder hardekwas as Mignon Grobbelaar kry jy nie. En tog, agter haar hardekwas-houding kruip ’n bang meisie weg, ’n kind-vrou met heeltemal te veel seer en bagasie. Daarom, weet Lukas, moet hy geduldig wees.

Hy wil haar beskerm, laat veilig voel. Sy moet weet sy is as mens die moeite werd. En hy moet, nee, sál leer vasbyt; en hy wat lawwe Loekie Bezuidenhout is, kan leer om te wag.

Man van sy woord: ’n Ouer en ryper Lourens – maar nog net so dodelik aantreklik soos lank gelede – is ná twintig jaar onverwags terug en haar kind se gradeplegtigheid word vir Bianca ’n nagmerrie. Alles het mos verander en daar is nie meer vir hom ’n plek in haar lewe nie – of bluf sy haarself? Lourens is nie meer die impulsiewe jongman wat Bianca so hartstogtelik liefgekry het nie, en sy het ook met die jare ryper en meer volwasse geword.

Dis net die onblusbare vonk tussen hulle en die honger na mekaar wat onveranderd gebly het. Het daar te veel water in die see geloop of gaan hulle waag om hulle liefde weer ’n kans gee?

Alta Cloete skryf romanses onder die naam Marilé Cloete. Sy onderskei hierdie ligter werke juis vir haar lesers, want sy glo mense lees dit “wanneer hulle wil vergeet as die wêreld om hulle brand.” Alta is verheug om deel van die oplewing in Afrikaanse ontspanningfiksie te wees en werk hard om dit te bevorder.

Liefde vir ’n woudprins

deur Serena Steyn

R85,00

Haar grootste vrees is slange. Nou sit Maresa diep in Afrika opgeskeep met Garth Stetson – die beroemde slangkenner. Maar tog, die aantrekkingskrag tussen hulle is onmiskenbaar. Daar is egter net een probleem: Maresa is verloof aan Huxley en professor Evans het haar visier op Garth.

Isabella se wenslys

deur Thea Holland

R85,00

Wat moet Isabella doen? Sy ken niemand met wie sy wil trou nie, maar hunker na ’n kind van haar eie. Dalk moet sy kandidate vir vaderskap oorweeg en liewer wegbly van Niël Zeeman en sy onweerstaanbare soene.

Ontwakende passie

deur Dina Botha

R200.00

Celestine de Péronne se susters verwyl hul tyd met borduurwerkies, mooimaaksessies en dagdrome oor toekomstige mans, maar sy droom daarvan om eendag die eienares van Lavoisier, die familieplaas, te wees. Sy bestuur reeds haar pa se plaas, teel perde, plant wingerde aan en maak wyn. Haar pa stel ’n aantreklike en sjarmante Fransman, Argonne de Lattre, as stalmeester aan, maar hy verkies meisies soos haar susters. Hy is ook die eerste man wat haar soen en haar kop laat duisel. De Lattre vra haar om te kies; dis òf hy òf Lavoisier, en dis die moeilikste besluit van haar lewe.

’n Machoman leer liefdestaal

deur Ida Bester

R85,00

Seerkry in beide Madri en Kobus se verlede maak hulle lugtig vir mekaar en vir ’n verhouding. Tog bestee hulle elke ledige minuut saam. Totdat Madri besef dat machoman Kobus kuns as tydmors beskou … en kuns is haar lewe.

Spore in die wind

deur Karen de Villiers

R85,00

Tinki se werk op die plaas Blouberg is ’n droom totdat sy Zac, die nuwe baas, ontmoet. Hulle vryf mekaar verkeerd op, maar moet noodgedwonge saamwerk wanneer die wildeperde in die distrik skielik begin verdwyn. Stadig maak wrewel plek vir liefde en Zac trap spore op haar hart.

KOMPETISIE:

Twee lesers staan ’n kans om elk een van hierdie titels te wen. Om in te skryf vir die kompetisie, vul die inskrywingsvorm in en gebruik die sleutelwoord ‘LIEFDESBOEKE3’.

 

Related Articles

Back to top button