KOMPETISIE: Staan ‘n kans om kinderleesstof vir die vakansie te wen

Staan 'n kans om wonderlike boeke vir jou kinders te wen.

Die opwindende Desembervakansie lê voor, en as jy nie weet hoe om jou klein rakkers besig te hou nie, hoekom skryf jy nie maar vir hierdie kompetisie in nie?

Rekord het ’n lang reeks kinderleesstof om weg te gee, hierdie is jou kans om jou kleintjies se breinkrag te bevorder met interessante leesmateriaal, eerder as om hulle voor die televisie te laat vrot.

Die titels lyk soos volg:

Hoendervleis: Grillerige stories en rympies

Jaco Jacobs

Illustreerder: Juanette Smuts

R130.00

Kom slaap ’n nag lank in die spookkamer. Vind uit wat gebeur as jy ’n poets op ’n onnie soos juffrou Grimbeek bak. Waag dit om ’n paar baie spesiale handskoene aan te trek. Ontdek die nuwe rugbyheld se grillerige geheim. Vind uit waarom jou kleinboetie nog elke aand met sy bedlampie aan slaap. En kom swem in die Middernagmeer… as jy dapper genoeg is. Hierdie boek vol grillerige stories en rympies sal jou heerlik hoendervleis laat kry! Daar is ’n weerwolf wat saam op die skoolkamp gaan, ’n paar spokerige handskoene wat goed is met klavier speel, ’n baie vreemde onderwyseres – en iets wat jou die hardste van almal in die fliek sal laat gil! Jong grilvrate sal versot wees op hierdie versameling stories en rympies uit die pen van Jaco Jacobs.

Volmaan

Jaco Jacobs

Illustreerders: Nico Meyer, Kobus Faber, Alistair Ackermann en Stephen Wallace.

R150.00

Veertien jaar gelede het Jaco Jacobs se eerste boek Troetelgedrog verskyn. Nou word dit weer uitgegee in hierdie wonderlike omnibus saam met vier van sy ander boeke wat nie meer in omloop is nie: Tande, Nag van die monsters; Nagvlerke en Voelers. Ontmoet ’n onderwyseres wat op volmaannagte in ’n weerwolf verander. Ontdek ’n speelding wat allerhande vreemde dinge begin aanvang. Vind uit van ’n eksperiment wat jou in ’n insek laat verander. Besoek ’n vakansieplaas waar reuse-vlermuise snags buite rondvlieg en gaan beleef ’n grillerige monsterfliek waaruit jy nie maklik ontsnap nie! Kry jou flits uit, kruip onder die komberse in en maak gereed om lekker te ril en te gril met hierdie GROOT en GRILLERIGE versameling stories.

La di da, Lulu

Fanie Viljoen

Illustreerder: Elsbeth Eksteen

R120.00

Lulu droom daarvan om eendag ’n modeontwerper te word. Niks is vir haar lekkerder as om pragtige ontwerpe in haar rooi tekenboek te skets nie. Die skool beplan ’n spesiale verjaardagfees. ’n Groot fees met lekker kos, ’n pretpark en speletjies. Daarom vra die skoolhoof vir Lulu om nuwe uniforms vir die trompoppies te ontwerp. Iets asemrowends! Iets la-di-da waarmee hulle by die fees gaan optree. Maar ongelukkig is daar ’n vreeslike misverstand – en Lulu verbrou haar enigste kans om die uniforms te ontwerp. Lulu is stomgeslaan. Een van die ander kinders in die skool gaan die klere ontwerp en maak. Maar wie?

Die rooikop, die leeu en die handgranaat

Annelie Ferreira

R140.00

Adele was nog altyd versot op kuns. Dit was haar díng. Maar sedert die begin van die jaar kry sy skielik vrot punte. Dalk hou die nuwe kunsjuffrou nie van haar nie. Hoekom sukkel sy so met haar selfportret vir die volgende klasprojek? Is dit omdat sy haar bos rooi hare en kurwes so verwens? Die afgelope tyd voel dit buitendien of ’n groot hand haar wêreld gevat en geskud het. Soos daai ou bordspeletjies wat hulle kleintyd saamgevat het op vakansies. Iemand stamp per ongeluk net liggies aan die Slangetjies-en-Leertjies en al die knope en dobbelsteentjies is deurmekaar, en niemand het meer ’n cooking clue of hulle naby die einde of die begin is nie. En dit alles begin die middag toe sy van die skool af stap en ’n leeu in hulle tuin ontdek …

Annelie Ferreira het al twee maal die Sanlamprys vir Jeuglektuur gewen. Sy skroom nie om moeilike onderwerpe aan te raak nie. Hierdie nuwe jeugverhaal uit haar pen is ’n holderstebolder wipwa-rit vol humor, romanse, aksie en avontuur.

KOMPETISIE:

Twee lesers staan ’n kans om elk een van hierdie vier titels te wen. Om vir die kompetisie in te skryf, vul in die inskrywingsvorm onderaan en gebruik die sleutelwoord ‘KINDERBOEKE1’.

Exit mobile version