KOMPETISIE: Wen lekker nie-fiksie leesstof

Wen interessante leesmateriaal vir jou vakansietyd.

Hou jy miskien van kook? Wat van naaldwerk, hekel of projekte rondom die huis?

Indien wel, is hierdie kompetisie net vir jou.

As jy hierdie feesseisoen by die huis gaan spandeer, skryf in vir hierdie kompetisie en staan ’n kans om ’n reeks nie-fiksie boeke te wen.

So lyk die titels:

Nie vir ma’s nie

Karin Behm-Joubert & Daleen van der Linde

R230.00

Met dié boek word ma’s tydelik uit die kombuis verban, want jou wederhelf en kinders is van plan om jou te bederf met heerlike kos wat hulle sonder hulp of te veel moeite kan voorberei. Nie vir ma’s nie se resepte is maklik, beproef en het stap-vir-stap aanwysings wat enige groentjie gemaklik sal laat in die kombuis. Die boek verskaf ook die nodige omskakelingstabelle en wenke, en laat kinders toe om meer te leer oor die doel van kombuistoerusting. Buiten heerlike resepte, is daar ook ’n hele hoop wenke wat kosmaak sommer kinderspeletjies maak. Komaan, pa! Jy en die telge kan! Daar is heerlike idees vir ontbyte, ligte etes, voorgeregte, kitskos, aandetes, bykosse, braaidisse, nageregte, teetydversnaperinge en smulgoed vir smulpape.

Marilyn kuier en kook!

Marilyn Gantana

R200.00

Marilyn Gantana het aan die verkeerde kant van die spoor grootgeword. Sy het ’n renons ontwikkel in die boodskap van die kerk wat nie tot haar werklikheid gespreek het nie. Die jonge Marilyn het gerebelleer. Raai wat? Toe trou sy met ’n VGK-dominee en die jong egpaar word beroep na Loeriesfontein. Hulle is die eerste bruin egpaar in hierdie gemeente, in die kerk wat destyds nog bekendgestaan het as die NG Sendingkerk. Die ouer susters was erg bekommerd oor die jonge Marilyn.

Hulle het haar skeef aangekyk, want wat weet sy? Die jonger susters, aan die ander kant, het hierdie mooi jong dominee só gekyk en gedink, sjoe. Marilyn kón kook, sy het by haar ma geleer. Tog het sy besef dat sy nog baie sal moet leer om met min hulpbronne vir báie mense kos te maak. Toe gaan soek sy raad by die einste susters wat haar so skeef kyk. Sy vra, sy probeer, sy begin kook en prop haar kritici se monde vol kos – en sy maak seker haar mooi jong man bly eet uit haar potte! Haar eerste kookboek is vir die kerkgemeenskap uitgegee, en Kuier het haar raakgesien. Sy is toe vir twee jaar as Kuier-huiskok aangestel. Marilyn kuier en kook! is haar eerste kommersiële kookboek. Marilyn Gantana het oor die jare baie geleer, nie net by die kerksusters nie, maar ook as ma van drie.

Sy hou deesdae boonop voltyds skool ook. Marilyn weet dus presies hoe kosbaar tyd is. In Marilyn kuier en kook! nooi sy ons om te deel in haar beste resepte wat sy al vir meer as 30 jaar bymekaarmaak en toets. Daar is familieresepte wat sy tydens haar grootwordjare by haar ma en tannies geleer het, ook die wenresepte van die wonderlike staatmakers wat geliefde gemeentelede van Loeriesfontein en Grabouw met haar gedeel het. Ons deel in smulkos, soos gebraaide lamsribbetjies, pannekoekies met ’n hoendervulsel, mini seekosquiches en roosterkoek. Alles word op ’n eenvoudige en bekostigbare manier berei. Die resepte is sonder fiemies, doenbaar en gou om te maak. Marilyn is baie lief vir ’n lekker slaai. Hier is ook hoofstukke in met resepte vir sop, ligte etes en bygeregte, vis en seekos, maalvleis, hoender, rooivleis, soetgoed en gebak.

Beatrix sê: Raak Hekel-Slim!

Beatrix Snyman

R250,00

Hekel is groot. Tog, hoe word jy deel van hierdie aktiwiteit wat weer die wêreld aan die gons het? Beatrix sê: Raak hekel-slim! is die perfekte inleiding vir diegene wat uiteindelik wil behoort tot die hekelbinnekring. Ervaar die pret, dié boek sal jou stap-vir-stap lei van die eerste optel van die hekelpen, tot die verstaan van spanning, die keuse van wol en die kleure en teksture. Word deel van ’n kunstige tydverdryf, verstaan die groot verskeidenheid hekelgare in alle kleure van die reënboog en die eindelose patroonmoontlikhede.

Die volkleurfoto’s en haarfyn instruksies word gekomplementeer deur spoggerige hekelprojekte. Vir die gesoute hekelaar sal al die inligting dien as ’n nuttige naslaanbron – en dit sal ’n handige geskenk wees om nuwelinge tot hekel te verlei.

Vir die beginner verduidelik Beatrix die volgende:

– Hekelpengroottes en hekelpentipes; selfs hoe en waarvan dit gemaak word.

– Sy wys jou hoe om die hekelpen en -draad vas te hou en sy verduidelik wat om te doen as jy linkshandig is.

– Sy verduidelik hoe om ’n patroon te lees.

– Die boek verduidelik ook hekelgereedskap soos kettingmerkers, stopnaalde en meetapparate.

Sodra jy die basiese beginsels onder die knie het, sal Beatrix jou met die volgende help:

– ’n Hekelpen-omskakelingstabel tussen VS, VK en metrieke mates.

– Hoe om hekelgare te kies, ook die voor-en nadele van natuurlike en kunsmatige vesels, die gewig van hekelgare en hoe om die hoeveelhede gare wat jy benodig, uit te werk.

– Kleurteorie en hoe om kleure te kombineer.

– ’n Volledige lys van al die steekafkortings tussen VS, VK en Afrikaans.

Beatrix Snyman is ’n kundige hekelaar wat reeds sedert 2012 hekelklasse en -werkswinkels aanbied. Sy ontwikkel oorspronklike hekelpatrone vir hekelgarevervaardigers.

KOMPETISIE:

Twee lesers staan ’n kans om elk een van hierdie titels te wen. Om in te skryf vir die kompetisie, vul die inskrywingsvorm in en gebruik die sleutelwoord ‘NIE-FIKSIE2’.

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button