KOMPETISIE: Fiksie wat jy kan geniet hierdie feesseisoen

'n Reeks lieflike boeke vir fiksie-liefhebbers

Is jy ’n fiksie fanatikus?

Dan is hierdie kompetisie vir jou.

Rekord het ’n reeks fiksie boeke om weg te gee om sodoende jou vakansietydperk te verryk met stories van verhoudings, spanning, avonture en vriendskap.

So lyk die titels:

Drie vroue en ’n meisie

“Ek het vir prof ’n storie om te skryf.” Só begin Drie vroue en ’n meisie toe die mooie Katryn een middag ná klas ongenooid voor die skryfkunsprofessor se lessenaar kom staan.

Wat volg is soms lig en sexy, maar dié roman belig te gelyke tyd die afgryslike armoede van wit en swart Suid-Afrikaners, asook die klasbeheptheid van die vroeë Afrikaner-elite.

Hans du Plessis het die vermoë om die leser te tart met heerlik speelse inligting, net om jou daarna weer bloot te stel aan die ellende van hulle wat nie het nie.

Ons leef nou, in die een-en-twintigste eeu, weer in ’n fase waar die politieke elite hulle vergryp aan die duurste en die beste terwyl die armes gewoon van honger sterf. Du Plessis hou ’n spieël na die verlede op en wys hoe eenders dit was toe die vorige heersersklas net vir hulself gesorg het en niks vir ander omgegee het nie.

Die einde bring hoop en daar is beeldskone verhale ook in die boek, maar uiteindelik is Drie vroue en ’n meisie ’n roman wat ’n diep seer blootlê en geen pleisters vir die wonde bied nie. Armoede se pyn en die elite se argwaan is skynbaar universeel.

Die ingrepe van die kerk en die staat se maatskaplike werkers bring uiteindelik verligting.

Drie vroue en ’n meisie vertel die saga en lotgevalle van drie generasies vroue wat by Katryn se grootjie in die miserabelheid van die delwerye van Miersehoop, wat byna reeds uitgewerk is, begin. Almal wat kom soek het na ’n diamant so groot soos ’n skaapkop, weet teen hierdie tyd die droom is aan’t sterwe; maar die hoop bly, die hoop bly. Nypende armoede en hoogmoed, onnoselheid en opregtheid vermeng op die harde Noordwes-Hoëveld en verdring só alles wat goed kon wees.

Hieruit groei die verhaal van ’n weeskind wat nie kos of menswaardigheid gegun word nie, laat staan keuses. Daaruit ontvou nog ’n verhaal en daaruit nog een.

Die roman toon sterk ooreenkomste met JM Coetzee se Disgrace, hoewel die storie gans anders is.

Jeanette Ferreira beskryf die verhaal so: “’n Broos mooi liefdesverhaal, heerlik bevredigend vir die leser wat ’n gelukkige einde wil sien, maar tegerlykertyd geloofwaardig en nie opgedoen met deursigtige sentiment en onhaalbare ideale nie.”

Sy sê ook: “Du Plessis vermaak ons met sy ongemaklike kennis van die mens se swakheid soos Herman Charles Bosman dit gedoen het, nooit haatlik en moedswillig nie, altyd met die wete dat dit hierdie swakhede is wat van ons mense maak. ’n Wonderlike verhaal, Du Plessis se roman.”

Moordhuis

deur Madelein Rust

R258, 00

Die sewejarige Gainsford-tweeling word op grusame wyse in ’n skuur op Mooiplaats in die Bloemfontein-distrik vermoor. Binne die opstal is vier van die welgestelde Therons vermoor, die liggame grusaam uitgestal in die sitkamer. Doktor Renata Malan en die span van Malan & Coetsee Privaatondersoeke word deur die tweeling se ouers aangestel om die moordenaar aan te keer.

Die ondersoek neem Renata in onverwagse rigtings: Bloemfontein se seksbedryf, die donker web, die nasleepsels van misdaad gedurende die bosoorlog in die tagtigs, die wêreld van kinderpornografie en pedofilie, hebsug, haat en buite-egtelike verhoudings. Die een geraamte na die ander tuimel uit die kas en hoewel die lys van verdagtes daagliks groei, is bewyse skaars. Wie, behalwe die Therons se erfgenaam, sou voordeel trek uit die gesin se dood? Hou die Gainsfordseuns se dood verband met ’n baba se verdrinking drie jaar vantevore?

Was Jakes Gainsford dalk self betrokke by sy kinders se dood? Was hierdie dalk die perfekte misdaad? Moordhuis is die derde boek in die reeks met doktor Renata Malan as die hoofkarakter. Die eerste twee boeke in die reeks is Monstersaad en Bloedlyn. Renata is ’n profileerder met ’n donker verlede en ’n talent om in geweldsmisdadigers se koppe te klim. Die oorgeërfde boosheid wat in haar gene skuil, maak van haar ’n gedugte teenstander en ’n gehate vyand.

Wilde klawer

deur Vita du Preez

R230,00

Vita du Preez was nog nooit skaam om haar lesers deur ’n mynveld te lei nie en die wilde McKenna Wilde se stewels gaan dit nog eens doen. Solitaire, Woestynroos, Droomland en Wilde klawer is ’n vierluik oor vier vroue wat deelgeneem het aan ’n Boer Soek ’n Vrou-kompetisie en hulle wedervaringe daarna. Wilde klawer is die vierde boek in die reeks en gaan oor McKenna Wilde wat ’n spesiale gawe het om deur aanraking te “sien”.

Vir hierdie ekstrovert wat verkies om eerder op die ligter sy van die lewe te fokus, is dit eerder ’n vloek as ’n seën. ’n Brief van ’n onbekende vrou lei haar terug na haar geboorteland, Noord-Ierland. Hier word sy gekonfronteer met haar ma se verlede. Die Wildes was betrokke by die IRL (Ierse Republikeinse Weermag) se bloedige stryd teen Britse oorheersing. Vir McKenna is dit ook ’n reis na selfontdekking. Sy moet leer dat sy nie van haarself en haar herkoms kan vlug nie. Erger nog: in haar soeke na selfaanvaarding, word dit vir haar duidelik dat ’n vrou eers ’n man met haar hart moet vertrou voor sy hom met haar lyf kan vertrou. Dit ruk haar binneste, want wilde McKenna het nog altyd weggeskram van blywende verhoudings en sien oplaas in dat intimiteit sonder liefde bloot ’n gejaag na wind is.

In Portballintrae, ’n klein hawedorpie aan die Ierse Noordkus, kruis haar pad met verskeie mense en nie almal is haar noodwendig goedgesind nie. Toe Tim Els, ’n tandarts wat vir reeds twee jaar in Noord-Ierland werk, haar pad kruis, moet McKenna begin keuses maak waarvan sy niks hou nie.

Mentje, kind van Pas-Opkamp

deur Irma Joubert

R280,00

Sy is so verskriklik eensaam. So verskriklik bang. Haar hart is verskriklik stukkend. Mentje de Vries, ’n Nederlandse oorlogswesie, beleef die Tweede Wêreldoorlog in al sy genadeloosheid. Eers moet sy onderduik in ’n geheime kamp vol Joodse vlugtelinge, en daarna beleef sy die hel wat die tyd net voor die bevryding voorafgaan, wanneer Britse troepe gestuur word om ’n brug in Arnhem oor te neem. In hierdie bloedige slag word ’n Suid-Afrikaner, wat deel is van die Britse Leër, gewond en die jonge Mentje red sy lewe.

Maar wat word van die wesie? Hoe oorleef ’n alleenkind gedurende die berugte Hongerwinter van 1944 en 1945? Irma Joubert is ’n geliefde naam in historiese fiksie. Al haar vorige romans was topverkopers en met Mentje, kind van Pas-Opkamp sit sy hierdie tradisie voort. Soos gewoonlik is haar navorsing puik. Die Pas-Opkamp het werklik bestaan. Foto’s is op die internet beskikbaar.

Irma Joubert is een van ons groot uitvoerprodukte. Beide haar Tussen stasies-trilogie, haar Pontenilo-trilogie, asook die eerste twee boeke van haar oorlogstrilogie, naamlik Immer wes en Mentje, kind van Pas-Opkamp, is in Nederlands vertaal, waar dit telkens onder die topverkopers tel. Vier van haar boeke is reeds in Duits vertaal en HarperCollins in Amerika het The girl from the train (Tussen stasies) in 2015 uitgegee. Kronkelpad verower in 2014 die BCB Publieksprijs in Nederland. In die VSA is The girl from the train in 2016 ’n finalis vir die Christi-awards, ’n buitengewone eer vir ’n vertaalde werk, en is dit deur Logos Books aangewys as die “Best Book of 2015”.

KOMPETISIE:

Twee lesers staan ’n kans om elk een van hierdie titels te wen. Om in te skryf vir die kompetisie, vul die inskrywingsvorm in en gebruik die sleutelwoord ‘FIKSIE1’.

Related Articles

Back to top button