Moot-inwoner met ’n passie vir skryf

“Ek het al ander genres probeer skryf, maar ek het gou belangstelling begin verloor terwyl ek geskryf het.”

’n Moot-inwoner het onlangs haar passie vir skryf met Rekord gedeel.

Tersia van der Westhuizen van Rietfontein skryf al kinderstories van ’n 18-jarige ouderdom.

“Kinderstories trek my vreeslik aan, ek weet nie hoekom nie,” sê sy.

“Ek het al ander genres probeer skryf, maar ek het gou belangstelling begin verloor terwyl ek geskryf het.”

Van der Westhuizen praat graag oor haar twee onlangse boeke, Fanie en sy hond en Georgie die rot.

“Fanie bly saam met sy pa op ’n plaas en kan nie verstaan hoekom sy hond wat hy by die dierebeskermingsvereniging gekry het, só vreemd optree nie,” vertel sy.

Van der Westhuizen wou nie meer oor die boek weggee nie, maar sê dat daar ’n rede vir die hond se optrede is.

LEES OOK: Author tells of her publishing journey

Georgie die rot gaan oor die rot wat vir die koning ’n horlosie moet maak.

“Om hierdie horlosie te kon maak, het Georgie ’n medalje nodig gehad vir die agterkant van die horlosie,” sê sy.

“Dit is ’n groot avontuur om hierdie medalje te kry.”

Tersia van der Westhuizen en haar gidshond. Tersia is swaksiende. Foto: Kayla van Petegem

Van der Westhuizen sê sy beplan om nog ’n boek te skryf oor vreemde diere.

“Eksotiese en vreemde diere is vir my vreeslik fassinerend,” sê sy.

“Ek gaan bietjie navorsing oor al hierdie diere doen sodat ek hulle kenmerke en eienskappe in die boek kan bylas.”

LEES OOK: Moot-skrywer voltooi nog ’n boek

Van der Westhuizen sê haar passie vir skryf het op ’n baie vroeë ouderdom begin.

“Ek het altyd geweet ek wou skryf. Dit was vir my wonderlik hoe ’n persoon ’n prentjie met woorde kan teken,” sê sy.

“In matriek het ek verskeie stories aan Siembamba gestuur, wat hulle toe op die ou einde gebruik het.”

Van der Westhuizen sê sy beplan nog om vir baie jare vorentoe aan te hou skryf.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

 

Exit mobile version