Is lyflike begeerte liefde?

Lesers wat Madelie Human se Skakerings van Hoop geniet het sal gek wees oor haar jongste boek, Skakerings van Liefde.

Hoe lank straf die samelewing ’n meisie wat oor die tou getrap het? Baie lank, is Nadia se antwoord. Elke dag dink jy aan daardie seun wat jy weggeteken het. Om oorsee te vlug en ’n loopbaan na te jaag, help ook net ten dele.

Dan, eendag, sien sy haar kind op rolskaatse ry. Hierdie seun van haar het reeds ’n pa, al is dit sy aanneempa. Dat hy onlangs ’n wewenaar geword het, is nie regtig hoopvol nie. Wie sal hom kwalik neem dat hy agterdogtig, selfs vyandig is toe hy uitvind hoe Nadia by hierdie oulike seuntjie van hom betrokke is?

Met stampe en stote leer sy die man beter ken.

Die aanneempa besef dat Nadia dalk ’n goeie ma sal maak en die aanbod van ’n huwelik hang skielik bo haar kop. Wil die man vir haar hê, of dink jy net aan sy kind? Soek hy dalk net ’n lekker lyf, een wat reeds een maal te gou te gewillig was?

Skakerings van Liefde is Madelie Human se tweede SuperRomanza in die Skakerings-reeks. Dit volg op Skakerings van Hoop wat in April 2017 verskyn het en uiters gewild was. Skakerings van Liefde is by uitgesoekte boekwinkels beskikbaar teen R210, LAPA Uitgewers.

Meer oor die skrywer:

Madelie het tot dusver geskryf oor die ligter kant van die liefde en het meer as twintig romantiese komedies op haar kerfstok. Sy waag nou haar hand aan meer verwikkelde verhale, maar steeds met ’n ligte aanslag, want haar romantiese hart weier om bes te gee vir die donker kant van die lewe – sy glo steeds dat die liefde enigiets kan oorwin.

Sy, haar skryfgoed en haar hekelwerk toer oral saam met haar man waar hy sedert sy aftrede steeds tydelike poste aanvaar omdat hulle twee weier om te gaan stilsit en oud word. Hulle huidige verblyf in Phalaborwa – die dorp langs die Kruger Wildtuin wat twee somers per jaar het – voel vir hulle soos ’n permanente vakansie.

Madelie se eerste romanse, Om Ben lief te hê, is in 2008 gepubliseer en in 2009 met ’n ATKV-Woordveertjieprys vir Romanses bekroon. Sy het ook ’n “helde”-reeks vir Romanza in 2017 geskryf – Held in ‘n oorpak (Maart 2017), Held in ‘n voorskoot (September 2017) en Held in blou jeans (Januarie 2018).

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

Related Articles

Back to top button