‘n Splinternuwe Afrikaanse klank

Die musiek duo 2ndLife is terug met 'n splinternuwe album, Lewe. Klik hier vir 'n lusmaker van die eerste enkelsnit.

As jy al ooit Boon (Gerrit) Boonzaier, hoofsanger van die spirituele musiekgroep 2ndLife, se hoendervleismooi rasperstem gehoor het, sal jy weet dat dit moontlik is om verlief te raak op iemand bloot oor hulle stem.

Sedert hulle debuut-album, Everything is possible, in 2011 uitgereik is, is musiekliefhebbers gaande oor die 2nLife duo se musiek en nou is hulle terug met ’n splinternuwe Afrikaanse album, Lewe.

“Die Afrikaanse mark het baie liedjies oor braaivleis, brandewyn, partytjies, sport en liefdesteleurstellings. Ons wou aan Suid-Afrikaners musiek bied wat gaan oor die dieper dinge in die lewe, soos die hemel, onsekerheid, vrees, lewensvrae, die toekoms, geloof, hoop, ensovoorts. Dis ’n kombinasie van lekkerluister- en geestelike musiek en kan beskryf word as vitamiene wat geluister word vir die siel,” verklap die manne agter die 2ndLife naam.

LEES OOK: Groot vreugde by Boeremusiek kuierfees

Die eerste enkelsnit Lewe is pas vrygestel en is een van daardie liedjies wat jou diep raak wanneer jy dit vir die eerste keer hoor.

Die snit, wat deur die duo self geskryf is, sluit ’n mengsel van elektroniese klanke en ander snaarinstrumente, soos die banjo, mandolien, kitaar, klavier en viool, in.

“Ons skryf emosionele musiek wat pas by die spesifieke tydstip in ons lewens. Tydens my skoonpa se lang siekbed het ons al ons eie emosies, asook syne, probeer vasvang in ons liedjies. Lewe gaan spesifiek oor die vrae en soeke na ons menslike doel op aarde,” sê liedjieskrywer en bestuurder, Liezel Boonzaier.

Luister hier na ’n lusmaker van die liedjie:

Meer oor 2ndLife:

Boon (Gerrit) Boonzaier is van jongs af blootgestel aan musiek, omdat sy ma ’n kranige pianis is. Hy sing al vandat hy vyf jaar oud is en het toe hy sewe was ’n boek geskryf, met die naam Die Singende Seun, wat ’n bewys was van waar sy hart lê. Na skool moes hy kies tussen tennis en musiek en sy passie het op die ou einde geseëvier. Die Pretorianer het musiek gestudeer aan die Tshwane University of Technology en tree al professioneel op vandat hy agtien is. Voordat 2ndLife in 2010 gestig is, was hy voorsanger van die suksesvolle groep, Movie 55, wat speeltyd oor radiostasies soos 94.7, PukFM, East Coast Radio, KovsieFM, UJFM, KFM en vele meer, geniet het.

Nadat tragedie sy pad met Liezel en haar twee kinders s’n laat kruis het, het hulle saam besluit om ’n nuwe begin te maak en só is 2ndLife – ’n naam wat hulle gesin verteenwoordig – gebore, met Liezel as liedjieskrywer en Boon as sanger. Musiek het oor die jare hul sielskos, herstelpad en medisyne geword en hulle wou graag hierdie reis met gehore deel.

LEES OOK: Top SA artists collaborate for the Warm Winter Musiekfees at Sun City

Die groep se aangrypende Engelse album was onmiddellik ’n treffer en is goed ontvang, plaaslik en oorsee. Hulle droom was egter nog altyd om hulle inspirerende boodskap in hulle moedertaal vas te vang, wat gelei het tot die ontstaan van hul eerste Afrikaanse album.

“Ons mikpunt was om die mooiste Afrikaanse musiek te maak wat hierdie land nog ooit gehoor het. Ons voel tevrede met ons nuwe vrystelling. Dit het ons sewe jaar gevat om die inspirasie bymekaar te kry vir hierdie album en ons hoop dat dit die luisteraar sal laat goed voel en die hartsnare sal laat saamsing,” sê die groep.

As Boon enige ander beroep moes kies, sou hy beslis ’n sielkundige wou word omdat dit vir hom belangrik is om mense te help en te inspireer. Hy luister na ’n wye verskeidenheid musiek, wat wissel van klassieke musiek tot rock, en Freddy Mercury en Miles Kennedy word uitgesonder as sy grootste inspirasie.

Hy sou ook nog graag eendag saam met Koos Kombuis wou werk, omdat hy al vir baie lank ’n groot aanhanger is van sy werk. “Ek wil graag hê dat my musiek mense moet laat vashou aan hoop, liefde en geloof. Ek was gelukkig om vanaf die ouderdom van 23 deur middel van my droom my gesin aan die lewe te hou. Die musiekbedryf het my egter geleer dat jy net so goed is soos jou volgende vrystelling en dat jy nie ander mense se musiek hoef te sing nie, maar eerder jou eie kan skryf en komponeer,” deel hy.

2ndLife se doelwit is om mense te inspireer met hulle musiek en boodskap. Die alternatiewe benadering en sielvolle vertolking van die liedjies op hulle nuwe album en Boon se unieke stem, is die perfekte bestanddele vir ’n eindproduk wat nie net ’n omwenteling gaan veroorsaak in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf nie, maar ook vir hulle ’n permanente plek besorg op elke musiekliefhebber se speellysie.

Vir meer oor 2ndLife volg hulle op Facebook , Twitter (@2ndlifeband) en Instagram 9@2ndlife band) of besoek hulle webblad.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

Related Articles

Back to top button