Leesgenot vir die jongspan

Hierdie nuwe titels sal die kleinspan en selfs tieners besig hou en vermaak.

Kupido.com deur Annabel Allers

Is jy gereed om die liefde van jou lewe te ontmoet? Waarvoor wag jy? Sluit dadelik aan.

Léa kan dit nie help nie – die hoofseun, Philip Cronjé, laat haar hart tjoklits klop. Philip is ’n regte Romeo. Hy het bruin oë, hy is slim en aantreklik… en hy het ’n meisie. Nie dat dit regtig saak maak nie, want Léa weet ’n ou soos Philip sal nie eens twee keer na ’n vaal, vervelige meisie soos sy kyk nie.

Maar dan skep haar beste vriendin, Kaylie, vir haar ’n vals profiel op Kupido.com, ’n kletskamer waar jy veronderstel is om die liefde van jou lewe te ontmoet. Kort voor lank is daar iemand wat met Léa wil gesels – Philip.

Daar is net een probleem: Die meisie op die profiel het rooi hare, sy is ’n bikinimodel in haar vrye tyd, en sy is baie avontuurlustiger as Léa.

Hoe lank sal Léa dit regkry om Philip te flous?

LEES OOK: Boeke wat die liefde aanwakker

’n Snaakse, romantiese debuutroman vir tieners deur ’n opwindende jong, nuwe skrywerstem in Afrikaans.

Details: R150, Lapa Uitgewers. Verkieslik vir lesers bo die ouderdom van dertien.

Die leeutemmer se assistent deur Solet Scheepers, Illustrasies: Marjorie van Heerden

Niks opwindends gebeur ooit op Kraaipan nie. Veral nie met Martjie wat in ’n eenvoudige huisie op die plaas Rietfontein net buite die dorp bly nie.

Toe Bertus Botha egter vir Martjie uitdaag om op die Mafikeng-trein te klim en te loer wat in een van die kratte is, begin ’n reuse-avontuur. Martjie beland pens en pootjies saam met ’n sirkusleeu op een van die trokke.

Sy leer ken die eksentrieke sirkusbase, Mister en Madame Pagel, en die ander artieste van Pagel se beroemde sirkus.

Mister Pagel is die sterkste man in die wêreld en druk tydens die vertonings sy kop in ’n leeu se bek. Madame Pagel ry bank toe met ’n leeu langs haar in die motor.

Martjie-die-bywoner-se-dogter se lewe sal nooit weer dieselfde wees nie.

Hierdie opwindende verhaal is losweg geskoei op die geskiedenis van die Pagel-sirkus, wat in die vorige eeu alombekend in Suid-Afrika was.

Details: R150, Lapa Uitgewers. Geskik vir lesers bo die ouderdom van nege.

LEES OOK: Carltonbeker draaiboek hou by boeiende spanningslyn

Daar’s nie ’n krokodil in hierdie boek nie deur Jaco Jacobs, Illustrasies: Chris Venter

Maak nie saak hoe hard jy soek nie – daar’s nie ’n krokodil in hierdie boek nie. So sê die woorde. Die prentjies vertel ’n ander storie.

Daar is wel ’n mooi prinses, ’n dapper prins, ’n boontjierank, ’n reus, ’n ouma, ’n wolf, drie bere en ’n Goeie Fee. Maar ’n krokodil? Nooit.

Dit is wat die ouers sal lees, maar slim kabouters sal baie pret hê om die teendeel te wys.

In hierdie prettige, rymende prenteboek-avontuur word die leser aan ’n klomp bekende en geliefde sprokieskarakters voorgestel – maar iets is nie heeltemal pluis nie…

Waarom is Aspoestertjie se voet so skubberig terwyl die prins die glasskoentjie probeer aanpas? Hoekom lyk dit asof Gouelokkies ’n lang groen stert het terwyl sy by die Drie Bere se huis insluip om aan hul pap te proe? En waarom is Rooikappie se ouma se vel so groen en vol skubbe?

Die boek is ’n móét vir enige liefhebber van lees – veral as jy nie van krokodille hou nie.

Details: R130, Lapa Uitgewers.

LEES OOK: Laerskool Raslouw hou ‘n boekedag

Hoezit 13: Die wonderwêreld van seelewe deur Jaco Jacobs en Fanie Viljoen

Ontdek ons oseane met hierdie boek propvol feite en aktiwiteite. Maak van naderby kennis met van die vreemdste visse in die oseaan, verken die wonderwêreld van dolfyne, en ontmoet ’n paar van die gevaarlikste gediertes wat in die see bly.

Details: R80, Lapa Uitgewers.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

Exit mobile version