Moot-aktrise te sien in hartroerende Vaselinetjie

Vaselinetjie is binnekort in teaters te sien. Rekord vang op met Elani Dekker wat 'n uitmuntende spel lewer in die film.

Vaselinetjie, ’n sielsgedrewe, tydlose verhaal wat handel oor ’n jong meisie se soeke na identiteit, is binnekort in Pretoria te sien.

Rekord het met Elani Dekker, oftewel ‘Pizzaface’ van die Moot, oor haar rol gepraat.

Elani is ’n plat-op-die-aarde 19-jarige aktrise van die Moot wat die vertolking van rolle as haar absolute roeping beskou.

Sy het die rol van Pizzaface losgeslaan nadat sy eintlik by die oudisies was vir die rol van Vaselinetjie.

“Ek lyk glad nie na my karakter Pizzaface nie. Die eerste ding wat Corne van Rooyen (die regisseur) vir my gesê het, is: ‘Jy is nie Pizzaface nie, jy weet jy gaan nie die rol kry nie…’

Maar ek het gevoel ek verdien ’n kans om myself te bewys. Ek verstaan as ek nie sy idee van die karakter is nie, maar wonder bo wonder toe hy my sien in die rol, het ek dit gekry,” verduidelik sy.

Die hartroerende rolprent handel oor ‘n jong blanke meisie wat deur haar bruin grootouers grootgemaak word in 1994, ‘n tyd van onherroeplike veranderinge in Suid-Afrika.

LEES OOK: Trotse Suid-Afrikaanse filmmakers lok Hollywood na Suid-Afrika

Toe die welsyn agterkom dat die egpaar nie haar biologiese grootouers is nie, word Vaselinetjie verplaas na ‘n staatsweeshuis in Johannesburg, waar sy met die lewe se harde kant te doen kry.

Elani het ’n indrukwekkende lys van rolle en ondervinding agter haar naam.

In 2015, het sy haar eerste hoofrol in die speelfilm, Jou Romeo, losgeslaan. Sy het die karakter, Yvette Verwey, in hierdie romantiese komedie vertolk.

Sy het ’n beurs van The New York Film Academy (NYFA) ontvang en het in 2015 die Acting on Film-kursus aan NYFA voltooi waar sy saam met kunstenaars van regoor die wêreld gewerk het.

Sy het al saam met bekende Suid-Afrikaanse akteurs soos Anel Alexander, Jacques Bessenger en Shoki Mokgapa gewerk.

Een van die dinge wat vir Elani uitgestaan het van die verfilming van die rolprent, is die gebou wat as kinderhuis gedien het.

“Ons het baie tonele geskiet in ’n stokou verlate kinderhospitaal in Johannesburg. Daar is nog beddens en ou hospitaal gereedskap in die gebou, maar geen elektrisitieit nie en voor ons begin het was hy heeltemal onder water,”sê sy.

Elani beskryf Vaselinetjie as die ideale storie om aan die wêreld te vertel. Sy wil graag aanhou om mense te vermaak met verhale wat saak maak.

LEES OOK: ‘n Nuwe Afrikaanse animasiefilm

Pizzaface is ’n lewenswyse jong meisie wat ’n taai vel moes kweek om lewe in die kinderhuis te oorleef.

Sy word die kinderhuis se M-Net genoem, omdat sy altyd stories van almal ronddra. Volgens Pizzaface is sy al ’n paar keer van haar maagdelikheid ontneem en sy gesels gemaklik daaroor met almal.

Elani het die karakter geniet.

“Dis nie soos teaterspel nie. Dis vir my so lekker om ’n karakter se persoonlikheid te kan aanneem en vir die gehoor net daardie deel te wys,”verduidelik sy.

“Met my gremering en klere het ek myself skaars herken in daai paar weke, en glo my ek het ure lank in daardie grimeerstoel gesit,” sê sy verder.

Elani kyk op na bekroonde aktrises soos Sandra Prinsloo en Anna-Mart van der Merwe en streef daarna om te bereik wat hulle bereik het.

Vaselinetjie is landswyd in teater op 22 September 2017 te sien.

Kyk die voorskou van Vaselinetjie hier:

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

 

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button