Digbundel bekendgestel in die Moot

“’n Digter moet onthou dat jou lesers nie jou terapeut is nie.”

Digter, fotograaf, mentor en oudlektor René Bohnen se derde digbundel Op die vingerpunte van die heelal is Saterdag bekendgestel.

Bohnen het in gesprek getree met Andries Bezuidenhout, “rockster”, “sosioloog”, dosent en digter, by die Pierneefteater in Villieria.

“Die titel was ’n geskenk uit die nag,” sê Bohnen.

“Ek het een oggend daarmee wakker geword en geweet dit is die titel van my volgende bundel.”

Bezuidenhout het veral gefokus op Bohnen se modernistiese invloede en woordspelings wat in haar gedigte voorkom.

In Aan die hand van noem Bohnen veral vir Goya, Pierneef, Pollock, Monet en Warhol.

LEES OOK: Eersterust-inwoners vermaak met tradisie

“Miskien is tema net ’n mooier woord vir obsessies. Ek het baie obsessies,” sê Bohnen.

Bohnen sê sy is eintlik ’n introvert, maar is baie lief vir mense en hul stories.

Sy het die gedigte Skrisofreenseun, Luisteraars, Die Omhelsing en By Rothko oor die baai uit haar bundel voorgelees.

Skrisofreenseun handel oor die kunstenaar Louis Wain wat aan skisofrenie gely het en bekend is vir sy kattekeninge.

Luisteraars gaan oor die Suid-Afrikaanse Elizabeth Klarer wat daarop aanspraak gemaak het dat sy ’n kind by ’n ruimtewese gehad het.

Die Omhelsing is ’n gedig oor die kunstenares Seraphine Louis en By Rothko oor die baai oor Mark Rothko.

Bohnen is bekend daarvoor om wiskunde en wetenskap in haar gedigte te ondersoek, maar volgens haar moet daar altyd ’n misterie in ’n gedig voorkom, iets wat jy nie noodwendig kan verklaar nie.

LEES OOK: Mes-kunstenaar mik vir gilde

“Baie kere sê mense vir my hul verstaan nie die gedig nie, maar hulle voel iets.”

“Ek sê dan altyd: hou aan daardie gevoel vas.”

Bohnen meen gedigte lees draai om verstaan of voel.

’n Leser hoef nie noodwendig ’n gedig te verstaan soos die digter dit bedoel het nie.

“’n Digter moet onthou dat jou lesers nie jou terapeut is nie.”

Haar derde digbundel is deur Naledi uitgegee wat die dag se wyn en eetgoed verskaf het.

Belangstellendes kon haar bundel teen R175 na afloop van die praatjie koop.

Dit kan ook deur Naledi Uitgewers bestel word.

In 2000 debuteer Bohnen met haar selfpublikasie Spoorsny en in 2010 word haar tweede digbundel In die niks alom bekendgestel.

 

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version