Heidi is terug – in ’n fliek

Staan ‘n kans om goeie kaartjies te wen.

Die geliefde Heidi is terug – hierdie keer op die groot skerm vanaf Vrydag, 2 September by Nu Metro Woodlands en Menlyn Park (en ander teaters landswyd).

Heidi is ’n hartroerende verhaal oor kinderwees, aanvaarding en vriendskap vir die hele familie.

In die 1980s het sy Suid-Afrika bekoor met die ikoniese, geanimeerde kinderreeks op televisie.

Nou is Heidi vir eerste keer op Suid-Afrikaanse fliekskerms – in Afrikaans.

Hierdie nuwe fliek-weergawe van die storie spog met die stemme van Suid-Afrika se mees bekende en gewilde akteurs.

Jenna Dunster is Heidi, Charlene Brouwer is Klara, Ruan Wessels is Peter, Louis van Niekerk is Oupa (hy was ook die stem van Oupa in die TV reeks) en Rolanda Marais is Mejuffrou Rottenmeier.

Henriëtta Gryffenberg het die regie vir die Afrikaanse oorklanking behartig.

Heidi, ’n weeskind, bring haar gelukkigste tye as kind by haar eksentrieke oupa Almöhi deur.

Hy woon in ’n eenvoudige huisie in die Switserse berge, afgesny van die buitewêreld. Sy en haar vriend Peter pas saam Almöhi se bokke op en die vryheid wat die berge hulle bied, geniet hulle terdeë.

Maar hierdie sorgelose dae kom tot ’n einde toe Heidi deur haar tante Dete na Frankfurt geneem word.

Die idee is dat sy by die ryk mnr Sesemann en sy gesin moet inwoon en ’n maatjie vir sy dogter Klara, wat in ’n rolstoel is, sal wees. Sy kan dan terselfdertyd onder die wakende oog van die streng kinderoppasser, Fräulein Rottenmeier, leer lees en skryf.

Hoewel die twee dogtertjies gou maats word en Klara se ouma ’n passie vir boeke by Heidi laat ontwaak, word haar verlange na haar geliefde berge en Almöhi by die dag groter…

Heidi is ‘n fliek wat herinneringe terugbring, maar is ook ’n hoë gehalte fliek met asemrowende natuurtonele, goeie kamerawerk, uitstekende spel en storie wat belowe om nuwe generasies te betower.

KOMPETISIE

Staan ‘n kans om een stel dubbel kaartjies te wen om Heidi te sien. Om vir die kompetisie in te skryf, vul gerus die inskrywingsvorm hieronder in en gebruik die word ‘HEIDI’ in die sleutelwoord blokkie.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button