Apies Innibos – groot pret vir die kleinspan

'n Kinder-oppasdiens, konserte en aktiwiteite waaruit daar gekies en gekeur kan word.

Apies Innibos is die ideale plek waar die kleinspan kan kom speel en hulle gate uit geniet. ’n Propvol vermaakprogram met baie pretaktiwiteite word van 11:00 tot 17:00 aangebied en dit is heeltemal verniet!

Sonja & Tjokker

In hierdie oulike musiek-kinderproduksie sing Sonja Herholdt en haar beste honne-pêl bekende sowel as nuwe oorspronklike liedjies vir die kinders. Die kleinmensies word uitgenooi om saam te dans en deel te neem aan die aksie. Tjokker vermaak almal met sy manewales en sy oulike sê-goed. Die “fluffy” hond met die bruin oë sal dadelik diep in die harte van die kinders kruip. Die program het ʼn geestelike en opbouende aanslag.

Optreetye: Wo 29 Junie om 16:00; Do 30 Junie om 13:00; Vr 1 Julie om 15:00; Sa 2 Julie om 14:00

Die drie varkies

Die drie varkies kom kuier Innibos, want hier is alles moontlik. ʼn Vark kan ʼn kat wees en ’n wolf kan allerhande varkerige idees hê vir ʼn lekker braaitjoppie of twee. Maar bloed is dikker as water en sussies wat saamstaan, is sterker as ʼn nare wolf wat hulle wil vang. Kom kyk hoe kat-varkie, matroos-varkie en ballerina-varkie vir Elvis die wolf pak slae gee as hy hulle wil vang.

Optreetye: Wo 29 Junie om 14:00; Do 30 Junie om 14:00; Vr 1 Julie om 12:00; Sa 2 Julie om 13:00

Meridian Care Outreach-dansers

Die dansertjies van Meridian Care Outreach gaan die kleinspan by Apies kom leer dans. Hierdie dansertjies is vol aansteeklike ritme en gaan dans dat die stof so spat! Hulle het al immers verlede jaar die Saterdag-aand op die hoofverhoog saam met bekendes opgetree!

Optreetye: Do 30 Junie om 12:45 en 14:45

Spotprente saam met Ghost

Die bekende Laeveldse spotprentkunstenaar, Ghost, gaan die kleinspan leer hoe om te teken. Hy gaan op ’n vindingryke en maklike manier demonstreer dat teken eintlik kinderspeletjies is! Moenie hierdie geleentheid misloop nie, daar skuil dalk net ’n Picasso of ’n Ghost in elk van die kleingoed.

Optreetye: Wo 29 Junie om 15:00; Vr 1 Julie om 11:00.

Tjiff en Tjaff

Hierdie twee geliefde karaktertjies kom kuier vanjaar weer vir by Innibos en hulle nooi die kleinspan om saam te kom kuier, sing en dans en om sommer hope pret te hê. Na die vertoning kry maatjies die geleentheid om die twee te ontmoet om ’n drukkie te kry. Kom neem gerus foto’s en tweet, SMS, facebook dit gerus. Moenie hierdie geleentheid misloop nie!

Geborg deur kykNET.

Optreetye: Wo 29 Junie om 17:00; Do 30 Junie om 11:00; Vr 1 Julie om 16:00; Sa 2 Julie om 12:00

Huletts Kolwyntjiepret

Hierdie jaar is daar vir die eerste keer by Apies Innibos ʼn opwindende aktiwiteit wat die kleinspan kan meemaak. Heerlike kolwyntjies is deur die VLU gebak en wag net om deur kreatiewe vingertjies versier en deur gretige mondjies geëet te word. Geborg deur Huletts.

Optreetye: Wo 29 Junie om 12:00; Do 30 Junie om 16:00; Vr 1 Julie om 13:00; Sa 2 Julie om 11:00

Kidazzle

Kidazzle Laeveld se kreatiewe span is reg om hierdie jaar die kleinspan daagliks besig te hou deur hul eie kunswerke te skep. Saam gaan ons die mooiste handpoppe uit sokkies maak. Ons gaan ook sleutelhouers en roomysstokkie-boekmerke maak en ʼn springmielie-boksie versier sodat ons heerlike springmielies daaruit kan eet wanneer ons klaar gespeel is. Kom deel in die pret met elke aktiwiteit. Al die materiaal en gereedskap vir die kunswerke word voorsien.

Optreetye: Wo 29 Junie om 13:00; Do 30 Junie om 12:00; Vr 1 Julie om 17:00; Sa 2 Julie om 15:00

Ronnie die Renoster

Hierdie is ’n unieke produksie wat kinders op speelse wyse van natuurbewaring bewus maak. Ronnie is verwyder uit die wildtuin en bly nou in ’n natuurreservaat vir veilige bewaring. Hy ontmoet daar vir Jess en Riki en hulle drie word sommer vinnig groot maats! Hulle leer kinders van goeie waardes deur middel van kreatiewe stories en oorspronklike liedjies.

Optreetye: Wo 29 Junie om 11:00; Do 30 Junie om 17:00; Vr 1 Julie om 14:00; Sa 2 Julie om 16:00

Koningskos

Koningskos is ’n poppekas wat kinders leer om die Bybel as riglyn in die lewe te gebruik. Met Grusty, die gemors-monster, en vele ander kleurvolle karakters en liedjies, word die waarheid van God se Woord op ’n genotvolle en snaakse wyse gebring wat die kinders se harte gaan raak. Wouter de Witt alias “ghost”, sy vrou Melanie, en die foamheads sorg vir propvol vermaak en geestelike voedsel.

Optreetye: Do 30 Junie om 15:00;  Sa 2 Julie om 17:00

Daar is ook tafeltjies en stoeltjies waar die kleinspan na hartelus kan inkleur en verf, knip en plak, kleispeel en blokkiesbou. En natuurlik ’n springkasteel waar hulle van al hulle energie ontslae kan raak. Alles onder die waaksame oog van bekwame personeel.

KINDER-OPPASDIENS OP DIE FEESTERREIN

Die ATKV Laeveld-tak bestuur die Apies Innibos aktiwiteite en ouers kan hul kinders met ’n geruste hart hier in die bekwame hande van oom Louis en sy knap span laat. Kleintjies moet in- en uitgeteken word, maar die groter kinders is welkom om te kom en gaan soos hulle wil.

’n Kinder-oppasdiens is ook daagliks beskikbaar. Ouers wat graag ’n produksie wil bywoon of net in vrede tussen die stalletjies wil gaan stap, kan gerus van hierdie diens gebruik maak.

Vir die kleinspan wat ingeteken is, is daar tydens middagete ʼn heerlike worsbroodjie wat deur Enterprise geborg word.

Daar is ook ’n aand-oppasdiens. ’n Kinder DVD, inkleurgoed en speletjies word gebruik om die kleingoed besig te hou en daar is matrassies waarop die hulle kan slaap. Bekwame personeel sien na die kleintjies om teen ’n billike tarief. Vir enige navrae skakel 082 321 6311

Lees ook: Rocco bring ou kerkliedere na Innibos

Lees ook: Twee plaaslike groepe RockRumoer finaliste

Video: Innibos 2014

Exit mobile version