Kuns by Innibos

Die kwaliteit die kuns by Innibos beloof om hierdie jaar wéér van uitstaande gehalte te wees en feesgangers kan hulself voorberei op ’n sinvolle kuns-ondervinding in verskillende mediums.

Kunsuitstallings is een van die hoogtepunte van die jaarlikse Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees. Die kwaliteit daarvan beloof om hierdie jaar wéér van uitstaande gehalte te wees en feesgangers kan hulself voorberei op ’n sinvolle kuns-ondervinding in verskillende mediums.

Innibos Visuele Kunsuitstalling, Mbombela Burgersentrum

MBOMBELA – Feesgangers moenie die gewone verwag by hierdie jaar se uitstallings nie. Alex Hamilton, byvoorbeeld, glo dat kuns oor obsessies gaan en hierdie uitgangspunt is duidelik in sy werke sigbaar. Hy beskryf sy eie obsessie: “My kuns word geïnspireer deur populêre kulturele storievertelling en die beeldbeskrywing van kontemporêre geskiedenis.” Sy werke word deur graffiti en die popkuns van Andy Warhol beïnvloed en reflekteer ons gesamentlike belang in die huidige en historiese obsessie met beroemdes en roem.

Samson Mnisi gebruik patrone, lyne, simbole en kleur in multimedia, abstrakte kunswerke. Dié Soweto-kunstenaar het reeds wêreldwyd aan talle solo- en groepuitstallings deelgeneem, insluitende New York. Hy word deur die Suid-Afrikaanse geskiedenis geïnspireer: “Ek glo dat ons net, deur eerlik te kyk na die totale geskiedenis (pre-koloniaal, koloniaal en post-koloniaal), werklik kan verstaan wie en wat ons is en watter rol ons in die wêreld en die toekoms behoort te speel.”

Die uistalling van André Naudé kan beslis ook as een van die hoogtepunte beskou word. Hy is internasionaal bekend en sy kunswerke is reeds wêreldwyd in verskeie privaat én korporatiewe versamelings opgeneem. Groot name in die kunswêreld praat met lof van hom en sy werk, veral die gebruik van kleur, word as opwindend en energiek beskryf. André gaan ook ’n skilderwerkswinkel in die loop van die fees by Mica, Mbombela aanbied.

Clare Menck, Vusi Beauchamp en Eric Manganje se kunswerke kan ook by die burgersentrum besigtig word. Al drie is bekende kunstenaars wie se werke reeds ’n stempel in die nasionale sowel as internasionale kunsmark afgedruk het.

Die amptelike opening van die Innibos Visuele Kunsuitstalling vind op 28 Junie om 18:00 by die Mbombela Burgersentrum plaas. Daar sal ook daagliks om 11:00 ’n rondleiding by die sentrum plaasvind.

Innibos Randuitstalling, Mbombela Kunsgalery

Plaaslike kunstenaars van die omgewing se kunswerke word hierdie jaar by die Mbombela Kunsgalery uitgestal. Hierdie kunswerke verken Laevelders se drome en ambisies deur die landskappe, omgewing en kaleidoskoop van mense en kulture in die streek uit te beeld. John-Anthony Boerma sê oor hierdie uitstalling: “Om die essensie duidelik te maak van wat so kenmerkend is van juis hierdie streek, lê dikwels voor die deur en in die kreatiewe idees van plaaslike kunstenaars. My kleine Afrika-hart bars van trots om die talle voorbeelde uit te stal wat wys hoe Suid-Afrikaners universele kunsvorme omarm en ook bydra tot nuwe opwindende vorme. Dit word ’n fusie met die hartklop en is die voedingsaar van Mpumalanga se kreatiewe uitsette.”

Die amptelike opening van die randuitstalling vind op 29 Junie om 10:00 by die Mbombela Kunsgalery plaas. Daar sal ook daagliks om 14:00 ’n rondleiding by die galery plaasvind.

Meer oor Innibos hier

Exit mobile version