Innibos-feeskunstenaar: Iets uit ‘n ander wêreld

Nathani Lüneburg is die Innibos-feeskunstenaar vir 2016 en kunsliefhebbers kan iets uit die spreekwoordelike ander wêreld verwag.

MBOMBELA – Nathani Lüneburg is die Innibos-feeskunstenaar vir 2016 en kunsliefhebbers kan iets uit ‘n ander wêreld verwag. Haar kunsuitstalling kan vir die duur van die fees by die banketsaal van die Mbombela-burgersentrum besigtig word.

Sy beoefen stopraam-animasievideokuns, ’n betreklik onbekende kunsvorm in Suid-Afrika. Lüneburg verduidelik: “Die kunswerk word as ’n video aangebied. ’n Video bestaan uit 10 000 of meer hoë-resolusie digitale multimedia-beelde en elkeen word digitaal gemanupileer om in die volgende in te vloei. Spesiale rekenaarsagteware word dan aangewend om die beelde kort op mekaar te speel en ’n kortfilm te vorm.” Dit neem maande van harde werk om ’n enkele video te skep.

https://youtu.be/pJJ-ykEF5sg

Die uitstalling is ’n reuse-onderneming en dit neem haar en verskeie helpers en kontrakteurs ongeveer 10 dae om die kunswerke te installeer.Laevelder was verras met ’n besoek aan die galery. Sewe massiewe spierwit skerms van 8x4m elk is reeds geïnstalleer en sewe projektors hang van die plafon af, gereed om die massiewe beelde te vertoon.

Benewens die projeksies, is daar ook 10 loerbokse. Elke boks het ’n loergat waardeur die besoeker kan kyk om ’n blik op ’n vertrek in ’n huis te kry. Die vertrekke is toegerus met miniatuur keramiekmeubeltjies wat sy self gemaak het en ’n miniskerm waarop ’n kortfilm deurlopend vertoon word. Elke skermpie is ’n bewegende skildery wat ’n storie vertel oor die denkbeeldige inwoner se lewe en ondervinding.

Lüneburg verduidelik dat haar kuns trauma – spesifiek kindertrauma – aanspreek. “Ek het deur die jare tweedehandse trauma beleef – dikwels deur die Suid-Afrikaanse media se grafiese uitbeelding daarvan. Dit maak my ’n simpatieke getuie wat poog om ander se lyding te verstaan en te protesteer teen misbruike en vergrype waardeur die huidige samelewing gekenmerk word.”

Elke video het ’n klankbaan wat deur Fridrich Kirsten, klankingenieur, en Stefan Hefer, haar musikant-man, geskryf is. Volgens Lüneburg is die klankbaan deel van die kunswerk. Die waarnemer word gekonfronteer met die verskillende films se klanbane wat in die agtergrond vermeng. Dit dra by tot die chaos van die trauma sowel as die drome wat uitgebeeld word.

Sandra Jacobs is baie opgewonde oor die uitstalling: “Dit is vir Innibos ’n voorreg om vir Lüneburg, hier in die wêreld waar sy grootgeword het, as feeskunstenaar te verwelkom.”

Sy het in Witrivier skoolgegaan waar haar ouers, Piet en Retha, steeds woon. Sy vertel dat sy as kind nooit stilgestaan of gestap het nie – sy was altyd aan die beweeg en haar gunsteling-tydverdryf was om oor die jong boompies wat haar ma in die tuin geplant het, te spring. Dalk is dít waar haar fasinasie met beweging vandaan kom…

Sy het in 2015 die Kanna-toekenning vir beste visuele kunstenaar by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en vroeër in 2016 die kykNET Fiësta-toekenning vir die beste visuele kunstenaar by ’n Suid-Afrikaanse kunstefees ontvang. Haar kunswerke is reeds wêreldwyd in meer as 50 uitstallings uitgestal, onder andere in Boedapest, Dakar, Melbourne en Windhoek. In 2008 is sy as een van vier Suid-Afrikaners verkies om aan die Prague International Biennale of Contemporary Art in die Tsjeggiese Republiek deel te neem. Lüneburg het ook reeds by verskeie universiteite en kunskonferensies wêreldwyd lesings aangebied.

Sy is tans besig met ’n DPhil-graad in beeldende kuns by die Universiteit van Pretoria en ’n dosent in beelde-kuns by Unisa.

Die openingsaand van die uitstalling is op Dinsdag 28 Junie om 18:00 en kan gratis bygewoon word. RSVP by mariolise@innibo.co.za.

Lüneburg en John Anthony Boerma, Innibos se kunskurator vir die 2016-uitstalling, gaan elke dag vir die duur van die kunstefees – vanaf 29 Junie tot 2 Julie – om 11:00 beskikbaar wees vir ’n begeleide toer van die uitstalling.

’n Beperkte aantal stilbeelde uit die films, gedruk op skilderdoek, sal ook te koop wees.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button