Vyf produksies maak hul debuut op Innibos-verhoog

So tussendeur al die drama, kan feesgangers ook uitsien na 'n skaterlagproduksies.

MBOMBELA – Feesgangers kan vanjaar weer uitsien na vyf debuutproduksies van hoogstaande gehalte.
Die produksie, Die Vrou Uit Die See met Neels van Jaarsveld, Jana Strydom, Eric Holm, Amalia Uys, Theodore Jantjies en Gavin van den Berg beloof om met so ‘n sterbelaaide rolverdeling ‘n teaterbelewenis soos min te wees. Strydom het so pas ‘n South African Film and Television Awards-toekenning gewen as beste aktrise vir haar spel in Treurgrond. Dit het ‘n pragtige storielyn en gaan verseker teater uit die boonste rakke wees.
Ter ere aan die skrywer Chris Barnard wat van die beginjare op Innibos se direksie gedien het, bring regisseur Albert Maritz een van sy mooiste dramas op die planke: Pa, Maak Vir My ‘n Vlieër, Pa. En in die rolverdeling is Sandra Prinsloo, Francois Jacobs en Waldi Schultz.
So tussendeur al die drama, kan feesgangers uitsien na ‘n skaterlagproduksie genaamd Ooms, uit die pen van Chris Vorster. Dit is deel van sy praktiese en teoretiese PHD aan die Vrystaat Universiteit waar hy die storie in drie visuele mediums vertel, naamlik verhoog (by Innibos), televisie en film. Met Tobie Cronjé en Gerben Kamper in die rolverdeling, beloof hierdie topvermaak te bied.
Dan is Athol Fugard se bekende People Are Living There met Anna-Mart van der Merwe, Francois Jacobs, Dana Gelderblom en Carel Nel. Hierdie produksie spog ook met ‘n klomp Naledi-benoemings en is enig in sy soort.
Nog twee debuutproduksies by Innibos is Die ontelbare 48 wat deur Fiësta-wenner Wessel Pretorius geskryf is en waarin hy self speel. Dit handel oor 48 dorpenaars wat vergader – elk om sy eie storie te skryf. Dit is ‘n satiriese drama wat die mens se uithouvermoë vier.
Dana Snyman het weer spesiaal vir Frank Opperman ‘n eenmanvertoning geskryf. Hierdie stuk handel oor ‘n hond, maar ook die man wat van sy beste vriend moet afskeid neem. Dit is ‘n bietjie hartseer en ‘n bietjie snaaks, nes die lewe self.
Besoek www.innibos.co.za vir die volledige program of kliek hier.

Kliek hier vir meer Innibos nuus

Exit mobile version