Raaisel van Moot-kunswerk opgelos

'Hierdie boom was gebreek... ’n seer oog langs die pad. Ek het besluit om iets nuuts te skep.'

Agter die masker van ’n 50-jarige ouditeur van Noordwes, sit die houtsnee-kunstenaar van die Moot.

Hy is die man agter die raaisel van ‘n horlosieboom wat sy verskyning op die hoek van Eva- en Dormerstraat gemaak het.

‘n Boomstomp is omskep in ‘n pragtige houtsnee-kunswerk met ‘n ingeboude werkende horlosie.

Die houtsnee-meester wat in die Moot woon, sê hy laat ’n stukkie van sy ware self agter in die natuur. Sy passie, vertel hy, is die natuur en houtwerk.

Sy anonimiteit wil hy behou.

“Dit wat ek doen, doen ek omdat ek dit geniet en nie om wins daaruit te maak nie.”

Die boom op die straathoek in die Moot, sê die houtsnee-meester, het hy gebruik as medium vir sy kunswerk omdat dit andersins afgekap sou word.

“Daar is sekere siektes en swamme wat op bome teer. Hierdie boom was gebreek… ’n seer oog langs die pad. Ek het besluit om iets nuuts te skep. Iets wat hopelik ander ook kan waardeer.”

Die houtsnee-meester sê hy het met ’n kettingsaag aan die stuk hout begin skaaf en so die boom in ’n werkende horlosie verander.

“Maar as jy van naderby kyk sal jy iets heeltemal anders aan die klok opmerk.”

Die horlosie loop links om – en die syfers is ook omgekeer.

“Dit gaan jou ’n tydjie neem om uit te werk hoe laat dit is,” vertel die eksentrieke kunstenaar met ’n lag.

“In vandag se tyd gebruik ons mos nie meer die konvensionele horlosies nie. Ons het mos nou slimfone en digitale horlosies om vir ons die tyd te gee. Hierdie klok gaan mense hopelik sover kry om weer hul breinkrag in te span.”

Die kunstenaar sê die omgekeerde klok is dalk ook simbolies van ’n omgekeerde wêreld waarin ons onsself bevind.

Hy het in Mosselbaai grootgeword, vertel hy. In Potchefstroom het hy skool voltooi en toe as ’n ouditeur begin werk.

Die kunstenaar sê hy het nog altyd ’n liefde vir houtsneewerk gehad, maar nooit dit as beroep gedoen nie.

“Dit is ’n passie wat ek in my vrye tyd uitleef.”

Die kunstenaar het van sy vroeë kunswerke gedeel en sê dit neem hom sowat ses werksdae om ’n kunswerk soos die Moot se klok te voltooi.

“Dié klok het my egter langer geneem, want ’n houtkapper het verlede jaar nes daarin gemaak,” verduidelik hy.

“Maar na ’n ruk het ‘n laksman-voël die inwoner kom verdryf en het ek in Januarie vanjaar aan die leë boom begin werk.”

Die houtsnee-meester sê die natuur kom altyd eerste vir hom.

“Ek sal nie aan ’n gesonde boom kan werk, wat nog as blyplek vir voëls dien nie.”

Die kuntenaar sê hy sal graag die vryheid wil hê om voort te gaan met sy kuns op straat.

“Ek het ’n ruk gelede ’n versoek aan die Tshwane-metro gerig, maar het nog geen antwoord ontvang nie.”

Related Articles

Back to top button