Van “Tasman” na standvastige man

Yolanda Barnard het met die Pretoria-sanger Jakkie Louw gesels oor sy nuwe CD, toekomsplanne, aande met sy bottel Tas en sy geestelike reis

Daar is ’n geroesmoes van stemme om ons.

Die kelners hardloop flink rond – kenmerkende Jakkie Louw-kêppies (net in rooi) versier hul koppe.

“Sien jy, sê Jakkie, hulle dra nou Jakkie-keppies, terwyl ek dit al lankal nie meer dra nie.”

Hy lag. “Jammer, ek moet net gou vir Danie (’n goeie vriend) na my CD-bekendstelling nooi.” Sy stem dreun oor die stemnota wat hy los. “Ek sien jou dan Woensdagaand.”

Jakkie Louw (36) se haarlyn het deur die jare aansienlik gekrimp, maar daardie dae (die dae toe hy nie ’n vertoning sonder sy bottel Tas(senberg) gedoen het nie en sy kêppies van verskillende snitte en kleure sy handelsmerk geword het) is nou verby.

Die sanger het groot geword. Ons sit by ’n kontinentale kuier-restaurant in die ooste van Pretoria.

Jakkie het klaar onbyt geëet en bestel opgewek ’n tweede koppie koffie. Met suiker en melk. “Jinne, die hele land se sangers is vanoggend hier verby,” sê hy. “Nicholis Louw het kom groet. Ampie du Preez is hier verby.”

“En wragtig,” grinnik hy, en wys na die bekende paartjie wat by ’n ander restaurant sit, “daar is Sorina Erasmus (die Flooze) en haar man ook.”

Sunnywood vandag hier by die sentrum…

Dit is nou al agtien jaar dat Jakkie vermaak. Eers die studente met sy harde rock-klanke en liedjies oor wyn, polisiehonde, hoenders en pikkewyne – en later die meer volwasse mark. Maar daar is nog nie ’n einde aan Jakkie nie. Miskien is hy ’n bietjie soos Steve Hofmeyr. Hy sal altyd relevant bly en dan is hy nou ook ’n sakeman. “Ek verkoop my Jakkie-kêppies teen R100 en ek verkoop meer kêppies as CD’s,” skater hy.

Dit is een van sy rustige dae, want gewoonlik reis hy die land vol. Sommer 200 vertonings per jaar. Van Kaapstad tot by Vaalwater. Alewig op pad. Alewig aan die show en Jakkie-produkte verkoop. Alewig met nuwe konserte en konsepte.

Daar is sy Frank Sinatra-vertonings waaroor die groot ANC-koppe glo dol is. Daar is sy Jakkals en Leeu-vertonings en dan ook rasegte Jakkie-konserte. Ja, ja, jy gaan daar Drie Pikkewyne, Rambo, Polisiehond, Marietjie se hoenders en Bottel Tas hoor.

En nou het hy weer ’n CD uitgereik. Die Standvastige man noem hy die CD, want hy is lankal nie meer daardie man wat van die een model na die ander spring of aande in Maloney’s (’n nou gestorwe kuierkroeg in Hatfield) rondkuier nie.

Die Standvastige man, wat ook ’n liedjie op sy CD is, word so verwoord: “Ek is ’n goeie man se seun; my pa het my alles wat daar is, geleer.”

Jakkie is al bykans vyf jaar getroud en maak twee dogtertjies groot. “Daar was altyd meisies, drank en soms ook dwelms, maar sedert ek vir Anel (sy vrou) ontmoet het, het my hele lewe verander. Ek is nou ’n “ou aap” wat my vrou gekry het. Ek sal ook nooit wil skei nie. Ek en Anel moet saam oud word.”

Sy ouers (sy pa ’n afgetrede predikant) is al dekades getroud en sewe kinders is uit die huwelik gebore. “Ek het ook ’n liedjie oor my ouers se huwelik geskryf. Hulle is vir my ’n baie goeie voorbeeld oor hoe om ’n huwelik te laat werk.”

“Ek het geestelik en emosioneel gegroei,” sê hy. “Ek kan nou die man wees wat God van my verwag om te wees. My liedjies het wel geestelike elemente, maar ek is nie ’n gospelsanger nie.”

Sy musiek is ook meer ernstig, dieper en veral sy liedjies wat aan kanker-oorwinnaars opgedra is, roer die hartsnare.

Jakkie, wat nou betrokke is by die kankervereniging van SA (Kansa), ’n organisasie wat kankerlyers ondersteun, het ’n liedjie vir Jana du Plessis geskryf wat oor haar stryd teen kanker handel. “Ek het haar so ’n paar jaar gelede ontmoet.

“Sy was toe maar in haar 20’s en is met kanker gediagnoseer. Haar been is intussen ook geamputeer. Jana was ook die mede-skrywer van die boek Aardetyd is genadetyd.

“Ek het die boek eendag op ’n vliegtuig gelees en ’n liedjie is daaruit gebore. Ek het die tema van die boek in ’n liedjie vasgevang.”

Hy prewel die woorde saggies: “’n Klein bietjie liefde maak jou sterk. Dit is die klein halleluja’s wat die beste werk. Sy vou haar hande bymekaar en vra: Hoekom ek. Hoekom ek?”

Die sanger Elvis Blue suiker ook verby ons tafel. “Ek sê mos die hele land se sangers is vandag hier. Ek gaan gou groet.”

“’n Vinnige hello (Jakkie het respek vir al die sangers in die musiekbedryf) en dan bestel hy nog ’n koffie.

“Ek samel seker so R200 000 harde kontant per jaar vir Kansa in. Dit is regtig ’n organisasie wat my baie na aan die hart lê.”

Elke Kersdag – dit maak nie saak of hy in Bloemftontein, Pretoria, Kaapstad of Durban is nie, besoek hy die kinderonkologie-afdelings. “Ek sit dan by die kinders se beddens en sing al my liedjies vir hulle.”

Sy selfoon lui. “Reg, engel. Ek sal haar gou gaan haal.”

Sy jongste dogtertjie is siek en “Anel het nie lekker geslaap nie. Ek gun haar rus. Ek moet gou vir Linké by die kleuterskool gaan haal”.

Net voor die kelner die rekening bring, stap Nataniël ook heupswaaiend verby ons tafel. Sy foon teen sy oor geplak. “Kyk net hoe slim is hy. Hy praat nie regtig oor sy foon nie, maar mense gaan hom nie nou voorkeer en met hom begin praat nie.”

Dit is Pretoria dié. Die publiek is al so gewoond aan die bekendes – hulle storm nie meer vir handtekeninge nie. Hier en daar herken iemand vir Jakkie. Hy knik vriendelik en die mense begin weer doodluiters eet. Heel blasé.

Jakkie staan op. Trek sy wit kortbroek reg. Wikkel sy tone in sy seeplakkies en vryf oor sy blokkiesmaag. “Ek is nou waar ek in my lewe moet wees. ’n Standvastige man.”

• Die Standvastige man behoort voor Kersfees op die musiekrakke te wees.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

Related Articles

Back to top button