Hoërskool Waterkloof vervaardig eie rolprent

Dit is die eerste keer in die geskiedenis van Pretoria dat ’n hoërskool ’n rolprent vervaardig en dit dan ook by ’n rolprentteater vertoon - al was dit dan ook net vir een aand.

Dit was ’n rooitapyt-geleentheid vir die sterre van Hoërskool Waterkloof in die ooste van Pretoria se eerste rolprent première wat Dinsdagaand by Nu Metro, Woodlands gehou is.

Matrikulante het in glansrokke op die rooi tapyt geposeer vir foto’s en die kelners (almal leerlinge aan die skool) het met glasies vonkelsap rondgestaan.

En agter by die kaartjietoonbank het ’n plakkaat van Transito, ’n rolprent van Hoërskool Waterkloof, langs die nuwe internasionale uitreikings gespog.

“Ek moet sê ek hou baie meer van drama as tevore en miskien oorweeg ek nog ’n loopbaan in die kunste,” het Stedman Gans (18), hoofseun en ’n hoofkarakter in die rolprent, gesê.

Dit kom nogal uit die mond van ’n buite-senter wat reeds deur die Blou Bulle nadergehark is.

“Dit is een van die skool se projekte om die kunste te bevorm,” het Rulene Swanepoel, dié skool se oulike drama-onderwyseres vertel.

Swanepoel en regisseur, Andre de Villiers, wat onder meer verantwoordelik was vir die regie van Die Pro en Knysna, het sowat twee jaar gelede besluit hulle gaan ’n rolprent maak.

“Ons eerste poging is by die KykNET Silwerskermfees vertoon, maar ons het sowat ’n jaar gelede besluit om ’n volwaardige rolprent aan te pak, wat veral op tienerkwessies fokus.”

De Villiers het die draaiboek geskryf, die regie behartig en sommer ook self die rolprent geredigeer.

“Ons het nie ’n begroting gehad nie en ek moes alles self doen,” vertel hy.

“Ons het nie geld uit die rolprent gemaak nie. Ek beskou die rolprent as ’n liefdadigheidsprojek. Dit was ’n fantastiese ondervinding om saam met rou talent te werk.”

Die rolprent vertel die verhaal van tieners wat in die bose netwerk van mensehandel beland.

Akteurs Hykie Berg en Juanita de Villiers wys ook gesig in die rolprent, maar die sterre is beslis die matrikulante.

Nu Metro het die rolprent net daardie aand vertoon.

“Ek hoop ons kan in die toekoms weer ’n rolprent vervaardig en net miskien kan dit vir ’n week in twee in teaters landwyd gewys word,” sê Swanepoel.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button