Man beplan 500 000km-reis vir liefdadigheid

'n Man van Montana, beplan om 500 000km te ry regoor Suid Afrika om geld, kos en klere vir minderbevoorregte mense in te samel.

’n Man van Montana in Pretoria gaan 500 000km in sy motor aandurf om geld, kos en klere vir minderbevoorregte ma’s en kinders dwarsdeur Suid Afrika in te samel.

Walter Language, ’n middeljarige gesinsman met ’n stabiele loopbaan, het besluit hy wil ’n wêreldrekord verbeter deur 500 000km af te lê na elke SPAR-winkel in Suid-Afrika en mense bewusmaak van sy doelwit.

Sy reis het verlede Saterdag begin en sal by SPAR Zambezi Retail Park op die hoek van Sefako Makgatho- en Molotostraat, Derdepoort eindig.

Language het ’n ooreenkoms met SPAR dat hy ongeveer 30 minute by elke SPAR sal stop om foto’s te neem, sy pamflette af te lewer en dan weer in die pad te val na die volgende punt.

Language beplan om elke maand ’n aantal SPAR-winkels op sy beraamde roete te besoek, die gemeenskap bewus te maak van sy reis en in die daaropvolgende maand weer by die SPAR-winkels aan te doen om die skenkings op te laai.

“Ek wil baie graag hê mense moet weet dat dit nie oor my gaan nie, hoewel ek ’n passie daarvoor het om op die pad te wees. Ek wou nog altyd ’n wêreldrekord opstel met liefdadigheid as doelwit. Ek weet van talle enkelma’s wat dag tot dag sukkel om die pot aan die kook te hou. Ek wil ’n verskil maak,” sê Language oor sy planne.

Language beplan nie om die geld, kos en klere persoonlik aan minderbevoorregtes te gee nie. Hy en sy span sal dit aan radiostasies regoor Suid-Afrika gee om uit te deel.

“Ons is baie gelukkig dat talle maatskappye in en om Pretoria die reis geldelik ondersteun wat byna twee jaar sal duur,” sê Language.

’n Splinternuwe Renault Duster is deur Language gekoop vir sy avontuur.

Inligting soos brandstofverbruik, die hoeveelheid kilometers wat hy ry, waar hy stop en die toestand van die kar, sal op sy Facebook-blad en webwerf (justaddasmile.org) beskikbaar wees vir mense om te volg.

Language het aan Rekord gesê dat hy baie min by die huis gaan wees, en dat hy lank en mooi met sy gesin hieroor moes praat.

“Ons het saam as ’n gesin die besluit geneem. My vrou en kinders verstaan dat hierdie vir ’n goeie doel is,” vertel hy.

“Ek sal Maandae tot Saterdae op die pad wees en Sondae by die huis deurbring. Ek sal ook miskien twee- of driekeer in die week by die huis slaap,” sê Language.

Sy skofte sal elke oggend om 06:00 begin en ongeveer 22:00 saans eindig.

Besoek die webwerf by www.justaddasmile.org om meer uit te vind oor Walter Language se reis van 500 000km om geld in te samel vir liefdadigheid.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

Related Articles

Back to top button