Drie dominees maak saam ‘n rolprent

Drie Pretoria-dominees het saamgespan en 'n Afrikaanse rolprent, Die Pro, se draaiboek geskryf en die vervaardiging behartig.

‘n Nuwe Afrikaanse rolprent, wat eersdaags op die silwerdoek te sien gaan wees, was vir drie dominees, wat die vervaardigers en skrywers was, ’n saak van geloof.

“Toe die kameras in Jeffreysbaai, in die Oos-Kaap, begin rol, het ek gewonder of dit werklik waar kan wees,” het Tiaan van Niekerk (31), ‘n jeugleraar by die NG-gemeente Rietfontein-Noord, Donderdag gesê. “Die rolprent was so lank in ’n beplanningsfase dat ons nooit geweet het of dit ‘n werklikheid gaan word nie.”

Van Niekerk en sy mede-teoloë, Annelie Bouwer (28) en Starlyn George (30) het in 2013 in ‘n restaurant gesit en gewonder hoe hulle tieners gaan bereik. “Dit was toevallig ook Tiaan se verjaarsdag en ons het besluit om ‘n produksiehuis, Die Hoofkantoor, te stig en Die Pro te vervaardig,” het Bouwer, wat deesdae die evangelie op haar manier op Oosrand-Stereo verkonding, vertel.

Die Pro, wat kortliks gegrond is op Leon de Villiers se gelyknamige boek, handel oor ‘n branderplankryer se soeke na antwoorde nadat sy beste vriend verdrink het.

Groot dele van die rolprent is in die Oos-Kaap geskiet.

Van Niekerk vertel dat hy tydens sy finale teologiese jaar in sy navorsingsverhandeling gefokus het op hoe rolprente ingespan kan word om tieners te bereik.

Van Niekerk het, nadat hy sy teologiese studies voltooi het, by die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) ‘n diploma in rolprent- en videoproduksie verwerf.

Hy het toe al vir Bouwer geken, maar het vir George by ‘n kerkkamp ontmoet. “Ons het dadelik besef dat ons dieselfde belangstellings het en aangesien Starlyn ook ‘n kwalifikasie in besigheidsbestuur het, was hy die regte keuse om ons besigheid te bestuur,” sê Van Niekerk.

George is nog besig met sy teologiese studies.

Van Niekerk sê hy het die “draaiboek stukkend geskryf. So baie mense het ons gehelp om aan die draaiboek te skaaf.”

KykNET het ook later op Die Pro-bootjie gespring en geld het ingestroom.

Hulle het verlede jaar begin om die rolprent te skiet. “Die mense op die stel het nie geweet ons is dominees nie en toe hulle uitvind het hulle herhaaldelik omverskoning oor hulle vloekwoorde gevra,” lag Van Niekerk.

Bouwer meen weer dat sy meer mense bereik as hulle nie weet sy is ‘n dominee nie.

“Jou kansel word op die manier die wêreld – almal is jou kudde.”

Die drie beplan nog ‘n paar rolprente, maar vir eers wil hulle eers op Die Pro se bekenstelling konsentreer.

Terwyl SterKinekor en NuMetro nie werklik aan Christelike rolprente wil byt nie, is hulle baie opgewonde oor Die Pro. “Dit is nie regtig ‘n Christelike rolprent nie – dit het wel ‘n sterk geloofsondertoon,” sê van Niekerk.

Die rolprent het ook ‘n groot begroting gehad en mense, wat dit al onder oë gehad het, meen die branderplankrolprent kan goed vergelyk met internasionale rolprente soos Soul Surfer.

Edwin van der Walt, wat in Ballade vir ‘n Enkeling en Hollywood in my huis te sien is, vertolk die hoofrol in Die Pro.

Die Pro begin op 18 September in teaters landwyd draai.

Lees ook:

Video: kykNET Legendes Konsert ‘n nostalgiese hartsreis Innibos

12 jaar van Innibos in oorsig: Groei is rede om fees te vier

Innibos: Marthie Maré sal jou lees soos ‘n boek…

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

Exit mobile version