Video: Sangers laat die voete jeuk tydens die kykNET-konsert – Innibos 2015

Van Afrikaanse musiek se grootste name het feesgangers aan't sokkie gehad tydens gisteraand se konsert op die kykNET-verhoog.

Gisteraand se kykNET-konsert is heel gepas met ‘n oomblik van stilte toegewy aan die sanger Fredi Nest, wat vroeër die dag sy stryd teen kanker verloor het, begin. Daarna het Lianie May en Jay die jolyt laat afskop met Naweeklyfie en ‘n hele paar paartjies het tussen die stoele gesokkie.

Die Innibos Dowe Uitreik is ook aan feesgangers uitgelig en tolke het gedurende die konsert heelwat liedjies aan dowe feesgangers geïnterpreteer.

Andriëtte het daarna die gehoor in volle bors laat saamsing met Sewe Oseane, Vat my hoër en Met ander woorde. Volgende aan die beurt was Pieter Koen wat van sy meer ernstige liedjies soos Wat die hart van vol is, So hard geval en Die een ding wat ek doen gesing het. Hy het heelwat oor Jukebox, die kykNET-program wat hy aanbied, gesels en daarna ‘n selfie met die gehoor in die agtergrond geneem. Hy het met Man van staal afgesluit.

Leah het vir die eerste keer by Innibos opgetree en tannies en omies aan die dans gehad met Die lekkerste ding om te doen en Ek bely.

Die BlackByrd-trio het ook vinnig ‘n buiging op die verhoog gemaak met Keep on en ‘n pragtige weergawe van die Dixie Chicks se Not ready to make nice. Jay het daarna by hulle aangesluit vir From the bottom of my heart, wat gereeld ook op radio gespeel word.

Lianie May het gunstelinge soos Bel, bel, bel, Noodlanding en Pleister vir my hart gebied en ook die dowe feesgangers gegroet. Daarna is Jy soen my nie meer nie getolk en het Jay saam met haar Bonnie en Clyde kom sing.

Jay het op die verhoog gebly en heelwat van sy kenmerkende danspassies uitgevoer. Sy treffers soos Dis hoe ons rol, Superhero en Dirty Dancing het verseker dat feesgangers saamsing en -dans. Hy het hulle ook met ‘n wonderlike, gritty weergawe van Midnight Oil se Beds are burning verras.

Feesgangers is voorgestel aan die Afri-Visie-liedjieskryfkompetisie en die eerste wenners, Twee. Herman Kleinhans het egter sonder sy metgesel opgetree en hul wenliedjie, Ek sweer, gesing voordat Desiree Gardner en Je-Ane Swiegers van Binneland-faam oor kykNET se nuwe programme kom gesels het.

Adam Tas was daarna aan die beurt en het Is dit hoe die hemel lyk? aan Fredi Nest opgedra. Daarna was ‘n tolk op die verhoog vir ‘n Man soos my pa. Want jy is boer en Skilpadtepel het ook skare aan die sing gehad.

Daarna het ‘n hele spul kunstenaars die verhoog betree om kykNET se nuwe temalied, Beleef jou wêreld in Afrikaans te sing. Tydens hierdie skouspelagtige optrede het Je-Ane en Andy Lubbe ook opgetree.

Willem Botha het sy wonderlike verhoogpersoonlikheid ten toon gestel en Breek op in stereo gesing.

Neels van Jaarsveld en Altus Theart het toe oor die nuwe seisoen van Getroud met Rugby gesels en daar is klein rugbyballetjies aan feesgangers uitgedeel.

Die beeldskone Riana Nel het met Dik en dun die gehoor aan haar voete gehad en dit opgevolg met The Story. Jy was daar, Jou ma se kombuis en Timbuktu het gevolg en die sanger se pragtige, ryk stem het dit die moeite werd gemaak om die koue temperatuur aan te durf.

Ampie het toe vinnig Plain Jane en Draai op, ‘n liedjie van sy nuwe CD, gesing voordat Bok van Blerk op die verhoog gestap het.

Die sanger het Land van melk en heuning en Bosveld Afrika gesing, voordat hy Soutwater, wat bekendheid in die rolprent Leading Lady verwerf het, gesing het. Hy het met De la Rey en Sing, Afrikaners, Sing afgesluit wat die hele gehoor op hul voete gehad het en uit een mond laat saamsing het.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button