Video: kykNET Legendes Konsert ‘n nostalgiese hartsreis Innibos

Die betowering het lank na die laaste note aangehou. Dit was 'n aand vol nostalgie.

Gisteraand se kykNET Legendes konsert het die Innibos feesterrein in ‘n snoesige nostalgie-kombers toegevou. Toeskouers kon hulle vir vier ure lank geheel en al oorgee aan die betowering van ons taal se mees geliefde stemme. Hierdie mans en vroue laat al vir jare harte oraloor warm klop.

André Schwartz, die seremoniemeester, het die aand afgeskop met Ek wil jou nooit weer sien en Met jou in my lewe. Rina Hugo het by hom
aangesluit vir Music of the Night uit die musiekblyspel ‘Phantom of the Opera,’ waarna sy van haar eie treffers gesing het in haar suiwer, klokhelder stem.

Jongmense en oues regoor die feesterrein het ‘n huppel in die stap gekry toe Pieter Smit aan die beurt gekom het. Haas Das se nuuskas, Sarah de Jager en Hoeka Toeka het Dis ‘n Land voorafgegaan, wat almal spontaan aan die sing gehad het.

Die immergroen Jannie du Toit se Madeleine en ‘n Liedjie vir jou het veral met die gehoor se harte gepraat. Hy is opgevolg deur Willem Botha en Laevelder Kirsten Raath wat Gé Korsten se Reik na die Sterre, uit die musiekblyspel met dieselfde naam, gesing het.

Dit was Kevin Leo se weergawe van Gé se Lied van die Lewe wat feesgangers oral – van die bosmol tot die rondlopers in die biertent – tot
stilstand laat kom het. Lance James, wat al vir 50 jaar ‘n bekende naam in die musiekbedryf is, se Dankie het bekoor voordat nog ‘n legende, Tolla van der Merwe, onthou is. Sy seun, Wicus, ‘n kunstenaar in eie reg, het almal lekker laat lag met Spietkop.

Laurika Rauch het nóg dieper in feesgangers se harte ingekruip toe Blouberg se strand en Stuur groete aan Maanetjies Roux vir hoendervleis oomblikke gesorg het. Rina Hugo, André Schwartz en Jannie du Toit het by haar aangesluit vir ‘n ‘46664 Madiba Tribute’ wat asems weggeslaan het.

Danie Niehaus het harte geroer met Sweef soos ‘n Arend voordat ‘n lied waarvoor baie gewag het aan die beurt gekom het – Randall Wicomb se Dans met die Rooi Rok bly maar net ‘n treffer! Sonja Herholdt se Jantjie het die heimwee laat hoog loop en Jennifer Zamudio het feesgangers trakteer met Anneli van Rooyen se Neem my op Vlerke.

Die legendariese Anton Goosen se Silver de Lange, Boy van die Suburbs en Kalbassies het feesgangers weer aan die sing gehad. Rina Hugo en
Sonja Herholdt was terug op die verhoog met Oberammergau waarna Anton Goosen en Sonja Herholdt Bring vir die Harlekyn nog wyn gesing het.

Die betowering het nog na die laaste note aangehou en die waardering vir ons musieklegendes het vir ure ná die vertoning is feesgangers se harte agtergebly.

Anzel Rheeder het die effek van die aand se musiek só beskryf: “Hierdie musikante is net álles – hulle musiek maak die atmosfeer!”
Quintin Liebenberg het uit die gehoor uit laat hoor: “Rou menswees is so mooi weerspieël in vanaand se musiek. Dis pragtig.”

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button