Innibos 2015: Plaaslike visuele kunstenaars gaan die hart van die kunste uitbeeld

Kurator John Anthony Boerma, het spesifiek hierdie uitstalling bymekaargesit en beloof om 25 plaaslike kunstenaars ’n uitstekende platform te gee om hul werk aan landswye besoekers te vertoon.

Vanjaar se visuele kunsuitstalling wat vanaf 1 tot 4 Julie by die Nelspruit Stadsteater plaasvind, gaan behoorlik ’n smorgasbord-affêre wees met ’n verfrissende blik op ’n verskeidenheid style wat iets vir elkeen se smaak sal hê.
Innibos se “Fees met Hart”-hooftema gaan in kunsvorm met die Hartsgoed-uitstalling verder gevoer word. Kurator John Anthony Boerma, het spesifiek hierdie uitstalling bymekaargesit en beloof om 25 plaaslike kunstenaars ’n uitstekende platform te gee om hul werk aan landswye besoekers te vertoon.

Marianna de Bruyn, Ilona Petzer, Maria van Riebeeck, Majak Bredell, Annalie Odendaal en Hannes Scholtz is maar ’n paar van die bekende name wat hier gaan uitstal.

Nog ‘n kunstenaar wat vanjaar ‘n groot impak op die fees gaan maak, is Griet van der Meulen. Sy vervleg haar werk met die kontemporêre idee dat alles deur eietydse wetenskaplike manipulasie moontlik is. Daar is niks wat Griet nie met haar kunswerk sal waag nie en dit sorg vir werklik interessante skeppings. Kleuterrympies, sprokies en raaisels is ook maniere hoe sy haar temas weergee.

Onder die kuratorskap van John Anthony Boerma het die Everard Read Gallery ook ingestem om ‘n paar van Lee Voigt se werke tydens die fees ten toon te stel.
Lee het ‘n obsessie met witgatbome nadat sy die Richtersveld in 2006 besoek het. Sedertdien het sy verskillende maniere gebruik om bome nuwe visuele lewe met haar kunswerk te gee. Die abstrakte vorms en die kaal woestynagtige omgewing van die Richtersveld was vir haar iets besonders.
Wendy Malan gaan ook na haar heimwee van 24 jaar terugkeer om haar nuutste werke uit te stal. Wendy, wat nou in die Kaap woon, gebruik liriese en atmosferiese beelde in haar werk en gee dit ‘n misterieuse sowel as ‘n toeganklike voorkoms.

Reuben Mpangane gaan ook met sy werk, Surfaces and Beyond, nuwe perspektiewe oor die samelewing voortbring. Reuben is een van ons land se voorste kunstenaars en sal met sy treffende werk ‘n klomp nuwe aanhangers kry. Die hooftema in sy werk handel rondom die waarheid en die oppervlakkige. Onder die dekmantel van die skynoppervlakte lê die waarheid, terwyl die oppervlaktes deur geloof en waardesisteme die toestand van die samelewing weergee. Hierdie kunsvorme met hul diep betekenisse behoort voorwaar kunsliefhebbers se lus vir die skone kuns te prikkel.

Related Articles

Back to top button