Judaskus vol bloed en rollende koppe

Kallie Kasselman is terug - die keer word die een onthoofde liggaam na die ander gevind. Yolanda Barnard het een uur in die geselskap van die skrywer van Judaskas spandeer.

Hy lyk soos ‘n amper-bleeksielspeurder waar hy bene uitgestrek in die warm Pretoriase wintersonnetjie sit.
Hy is lank en maer. ‘n Ietsie Picasso. ‘n Ietsie Breyten Breytenbach.

Met sy gespikkelde grys baard, Tweed-baadjie en Dunhill-sigarette – ‘n misdaadskrywer wat sy pad na die hoogste misdaad-toringsprits oopgeskryf het.

Rudie van Rensburg (63) se derde misdaadroman, Judaskus, het pas verskyn en almal se gunstelingspeurder (dit is nou naas die gerehabiliteerde Bennie Griesel uit die Deon Meyer-boeke) Kassie Kasselman is terug.

Rudie sit hom en verwonder aan die City Lodge-hotel in die ooste van Pretoria.
Sakemanne wat met tablette op tafels en selfone teen hulle ore die nuutste finansiële tendense bespreek. Lywige vroue wat op spykerhakke deur die ingangsportaal klik-klak.

As Kapenaar ken hy nie die jakarandas en die gewoel van die Pretorianers nie.

‘n Vinnige kykie na twee Oos-Londoners, wat klere en al op die sonstoele lê en bak. “Ons het Pretoria toe gekom om na die Pink Floyd-vertoning te kyk,” spin die vrou soos ‘n katjie in die son.

Hy verwonder hom aan die hotel – wat die perfekte milieu kan skep vir ‘n moord. “Hier is alles, sê hy, bruin intelligente oë flits oor die swembad, om ‘n perfekte moord te pleeg. ‘n Swembad waarin iemand kan verdrink. ‘n Koue lyk wat in ‘n hotelbed ontdek kan word.”

Rudi, wat ‘n oud-Volksbladman (die Vrystaatse dagblad), is, word deesdae in dieselfde asem as die land se gewildste misdaadskrywer, Deon Meyer, genoem.

En snaaks genoeg het die twee skrywers se paaie al die laaste 40 jaar saamgeloop. Eers by die Volksblad. “Ek het gedink Deon kon glad nie skryf nie. Ek was sy direkte hoof en sy nuusberigte was swak,” skater hy.

Toe draai die twee – die joernalistiek betaal nie te waffers nie – se loopbane by die Universiteit van die Vrystaat en beland hulle ook so saam-saam by Sanlam in die Kaap.

Maar dit is waar die ooreenkomste ophou. Hoewel Rudie ‘n groot Deon-aanhanger is, is hy nie ‘n klakkelose Deon-naskrywer nie.

Sy eerste boek in die Kassie Kasselman-reeks is al in 2009 klaargeskryf, maar “dit het maande by die uitgewers gelê en geel word”.

Dit is toe dat iemand die manuskrip uitruk en dit in een sessie deurlees. Vinnig, opwindend, anders en in 2013 het die boek verskyn.

Toe gaan sit hy en skryf. Op Maandae en Dinsdae werk hy by die Tygerburger in Kaapstad as subredakteur. “Dit hou my taalfiks.”

En die res van die week – tussen seweuur die oggend en eenuur die middag – word Kassie ‘n karakter op papier. In 2014 het Kopskoot verskyn.

“Nog ‘n kolskoot in misdaadfiksie,” het resensente gehoe-ha en nege maande later het hy Judaskus gebaar.

Kassie is nou nie jou tipiese dronkgat-speurder nie. “Ek wou ‘n bleeksiel skep wat in mense se harte sou inkruip.”

Kassie drink net Crème Soda en het ‘n uitgebreide seëlversameling. Hy is ook ‘n aktiewe lid van die boeremusiekgilde. “Die uncoolste speurder nog,” spot Rudie.

Judaskus se antoganiste is boos. Vera, een van die karakters wat verskillende alibi’s het, is gevoelloos en wreed. Victor skroom nie om koppe met broodmesse af te saag nie.

En dan is daar Snake en TJ – twee diewe – wat in die bose kringloop van moord vasgevang word.

“Dit is vir my die lekkerste om die bose karakters uit te dink,” skud Rudi kop. “Ek wou gehad het dat die leser ‘n bietjie simpatie met Snake en TJ moet hê.”

En hy het dit reggekry, want toe die arme TJ brutaal in die tronk verkrag word, het die gehardste leser ‘n traan gepik.

Misdaadfiksie is een van die gewildste genres in Afrikaans.

“Geen feit in ‘n boek kan die werklikheid van Suid-Afrika se misdaadsituasie troef nie, maar in boeke word die booswigte gewoonlik gevang en die moorde opgelos. Dit is waarom mense misdaadfiksie verslind,” meen Rudie.

Nog ‘n koue spoor, nog ‘n warm lyk. Sal Kallie die moordenaars opspoor voor nog ‘n kop rol?

Rudie kyk vlugtig na die tyd. Nog ‘n onderhoud wag. Die keer met die tydskrif Vrouekeur.

‘n Laaste sigaret. ‘n Laaste sug en ‘n vinnige geheim: ‘Die vierde Kallie-manuskrip is klaar.”

Vier boeke. Vier jaar. Niemand kan meer vir Rudie of vir Kallie keer nie.

Judaskus is die derde boek wat oor Kassie Kasselman handel.
Judaskus is die derde boek wat oor Kassie Kasselman handel.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

Related Articles

Back to top button