Sandra Prinsloo gesels oor haar nuwe rol

Die nuwe teaterstuk van Sandra Prinsloo is eersdaags te sien by die Barnyard-teater.

Met haar nuwe eenman-teaterstuk, Oskar en die pienk tannie hierdie naweek by die Barnyard-teater, Parkview, Moreletapark, verruil Sandra Prinsloo haar Kaapse tuiste tydelik vir Pretoria.

In Oskar en die pienk tannie vertolk Sandra nege rolle, wat insluit Ouma Rosa en Oskar, ‘n 10-jarige seuntjie wat terminaal siek is en dan besluit om sy lewe elke dag voluit te leef vir die laaste 12 dae wat hy oor het.

Rekord het met Prinsloo gesels oor die nuwe stuk, haar loopbaan sover en wat sy volgende beplan.

“Ek was so gemotiveer deur die stuk se filosofie, dat jy kan kies wat jy met jou lewe wil maak, dis ongelooflik om die lewe te ervaar soos jy wil en elke dag na die wêreld te kyk asof jy dit die eerste keer sien. Dis so ‘n inspirerende boodskap en ook verskriklik lekker om die rolle te vertolk,” het sy oor die stuk gesê.

Volgens Sandra is daar nie een van die karakters waarmee sy regtig as persoon kan identifiseer nie, maar meen dis vir haar belangrik om iemand anders op die verhoog te kan vertolk.

“Al kan ek nie self identifiseer met enige van die karakters nie, is ek baie lief vir die karakter van Ouma Rosa.”

Sandra, wat al te sien was op die silwerdoek, televisie en die verhoog, sê sy is mal oor teater, maar kan nie regtig ‘n gunsteling onder die verskillende platforms kies nie.

“Met teater is dit wonderlik om die karakter te ontwikkel en wanneer mens die verhoog saam met ander akteurs deel, word mens amper soos familie, maar ek is net so lief om in rolprente en televisie op te tree.”

Sy het ook nie net een persoon wat haar inspireer en saam wie sy graag sal wil werk nie, want, sê sy, daar is te veel om te noem.

Sandra is te sien in drie nuwe rolprente wat vanjaar te sien sal wees, naamlik Twee Grade van Moord, ‘n Man soos my Pa en Paw Paw vir my Darling.

Intussen is sy opgewonde om weer in haar geboortestad te kan optree. “Pretoria is heerlik en ek mis veral om in die somersaande buite te sit. Ek sien baie uit na die vertoning, want Pretoria gehore is die lekkerste gehore.”

Vir meer inligting oor Oskar en die pienk tannie of om kaartjies te bespreek, gaan na www.barnyardtheatre.co.za.

KOMPETISIE: Staan die kans om dubbel-kaartjies vir Oskar en die pienk tannie te wen. SMS die woord OSKAR en jou naam en van na 42282. Die kompetisie sluit Woensdag 10 Junie 2015 om middernag. SMS’e kos R1.50. Gratis SMS’e geld nie.

Lees ook:

Treurgrond oortref verwagtinge

INTERNATIONAL NEWS: Bruce Jenner finally introduces Caitlyn

Groot nuus vir Karlien van Jaarsveld

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

Exit mobile version