Akteurs gesoek vir nuwe jeugrolprent

Wil jy graag jou debuut as akteur en aktrise maak? Mammas en pappas, lees die storie en maak 'n plan om julle kind se inskrywing binne die volgende paar dae na Phoenix Films se Facebook-blad te stuur.

Phoenix Films bied ‘n opwindende kompetisie aan waarin ‘n Pretoriase seun en dogter die geleentheid kan kry om hulle akteursdebuut in ‘n splinternuwe Afrikaanse jeugdrama te maak.

André Fraunstein, die vervaardiger van Treurgrond, het Woensdagmiddag aangekondig dat die rolprent se naam Mossie is en dat hulle twee jong akteurs (tussen 7 en 8 jaar oud) benodig om die rolle van die jonger Mossie en Adriaan te vertolk.

Die jeugdrama vertel die verhaal van twee jong kinders wat saam groot word en latere jare ontwikkel daar ‘n kalwerliefde tussen hulle.

“Die rolprent is soortgelyk aan die jeugdrama The Fault in the Stars,” sê Fraunstein.

Tanica Fourie, ‘n 17-jarige leerling aan die Hoërskool Garsfontein, vertolk die rol van die ouer Mossie.

Die dogtertjie moet verkieslik bry, donker oë hê en verspreide sproete oor haar neusbrug. Sy moet ‘n jonger weergawe van Fourie wees.

“Ek het vreeslik gehuil toe ek die draaiboek lees,” sê Fourie.

Die ouer Adriaan word gespeel deur die nou bekende Deanre Reiners wat al in Binnelanders, Seun en Verskietende Ster te sien was.

Die seun, wat die rol van die jonger Adriaan speel, moet verskieslik donker hare en donker oë hê.

Volgens Fraunstein gaan die rolprent in die Pretoria-omgewing geskiet word en verfilming begin alreeds 17 Augustus.

“Ons wil reeds volgende Vrydag met oudisies begin,” sê Fraunstein.

Plaas ‘n foto van jouself en ‘n minuut lange video-insetsel waarin jy vertel waarom jy die rol van die klein Adriaan of Mossie wil speel op Phoenix Films se Facebook-blad: https://www.facebook.com/PhoenixFilmsPtyLtd?ref=hl

Jou inskrywing moet vergesel word van ‘n e-pos adres of ‘n Facebook-skakel sodat die vervaardigers jou kan laat weet indien jy vir ‘n oudisie genooi gaan word.

Jy kan sommer vir jou ouers vra om die kort video met hulle selfone of tablette te maak.

Rekord gaan ons lesers op hoogte hou van die oudisies deur kort video’s op ons Facebook-blad te laai.

Rekord-lesers kan ook die geleentheid kry om vir hulle gunsteling Mossie en Adriaan te stem.

Darrel Roodt, die regisseur van die rolprent, gaan besluit wie die Mossie en Adriaan gaan wees, maar daar gaan ook ‘n lesergunsteling gekies word en die gelukkige wenner kan kaartjies na die premiere en ‘n stelbesoek wen.

Daar sal hulle skouers kan skuur met befaamde akteurs soos Deon Coetzee, Devon Hofmeyr en Erica Wessels wat ook in die rolprent te sien gaan wees.

Inskrywings sluit Donderdag 11 Junie om 12:00.

Lees ook:

Treurgrond oortref verwagtinge

Groot nuus vir Karlien van Jaarsveld

Deon Meiring verras leerders van Menlopark

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

 

Exit mobile version