Skouspel nie meer by Sun City

Die Huisgenoot-Skouspe konsert gaan moontlik hierdie jaar by Loftus Versveld gehou word, maar Afrikaanse musiekliefhebbers byt langtand aan die besluit.

Die tydskrif Huisgenoot gaan sy gewilde Skouspel-konsert nie meer by Sun City in die Noordwes-provinsie aanbied nie, maar moontlik na die hartklop van Pretoria, Loftus Versveld, verskuif.

Geen datum is nog bekendgemaak nie, want die kunstenaars, waaronder Kurt Darren en Ray Dylan, se kontrakte is nog nie gefinaliseer nie.

Waar Skouspel gewoonlik oor ‘n paar aande gehou is, sal dit na veertien jaar net op een aand plaasvind, het die tydskrif verlede week aangekondig.

Die Afrikaans is Groot-konsert word in November by die NG-gemeente Moreletapark gehou en al nege konserte is reeds uitverkoop.

Afrikaans is Groot het ook op sy webwerf aangekondig dat daar op 19 en 26 November nog twee konserte gehou word.

Die algemene gevoel onder sommige Afrikaanse musiekliefhebbers is dat hulle nie ‘n kaartjie vir die Skouspel-konsert gaan koop as dit op Loftus aangebied gaan word nie.

Anita Carstens van Centurion woon al die afgelope veertien jaar die Huisgenoot Skouspel-konserte by Sun City by, maar sy gaan nie vanjaar die konsert op Loftus Versveld bywoon nie. “Ek het reeds my kaartjie vir die Afrikaans is Groot-konsert gekoop,” sê sy.

“Ek wil naby aan die sangers sit – ek wil letterlik sien hoe die sweet oor Kurt spat. Loftus is net te groot.”

“Die naweek by Sun City het oor baie meer as net die konsert gegaan,” sê sy. “Dit was ‘n naweek waar familie van heinde en verre bymekaargekom het. Ons het gewoonlik op ons vakansiepunte by die RCI Vacation Club gebly en dus moes ons net ons konsertkaartjies en kos koop.”

Die vorige twee jare het Sun City die Vacation Club se huise opgradeer en konsertgangers was verplig om ‘n Huisgenoot-pakket vir R3 500 per persoon te koop.

“Dit het baie duur geword,” sê Carstens, “maar ek sou steeds kaartjies gekoop het as dit by Sun City gehou is”.

Huisgenoot het dié konserte gewoonlik begin adverteer onmiddellik nadat die vorige een verby was, maar vanjaar is geswyg oor die volgende konsert.

Intussen het Henriëtte Loubser, redakteur van Huisgenoot, in ‘n verklaring gesê kykNET is nou ook een van die vennote.

Luidens die verklaring praat kykNET en Huisgenoot onder meer met Big Concerts.

Die organiseerders sê Huisgenoot en kykNET vorder goed met hul ondersoek na nuwe geleenthede vir vanjaar se konsert.

Afrikaans is Groot se sangers sluit groot name in soos Bobby van Jaarsveld, Theuns Jordaan en Steve Hofmeyr, terwyl Skouspel staatmaak op die gewilde stemme van Ray Dylan, Kurt Darren en Elizma Theron.

Dit is algemeen bekend in die musiekbedryf dat die Coleske-broers, wat Afrikaans is Groot-konserte begin het, nie om dieselfde vuur as Huigesnoot sit nie en daarom hul eie reeks konserte begin het.

Carstens sê die Skouspel-konserte vir haar afgewater begin raak toe sterre soos Hofmeyr opgehou het om daaraan deel te neem.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

 

Related Articles

Back to top button