Innibos breek vanjaar deur die klankgrens

In pas met die 2015 feestema - "Fees met hart" - poog Innibos om die kunswêreld vir dowes en gehoorgestremdes te ontsluit en só die eerste Afrikaanse Kunstefees te word wat vir gehoorgestremdes toeganklik is.

Ongeveer 1,4 miljoen Suid-Afrikaners is doof. Slegs 30 persent van dié groep kan liplees en daarmee saam word gebaretaal as dié land se 12de amptelike taal gereken.

Sit Suid-Afrika met ‘n reusekommuni-kasiegaping? Heel waarskynlik.

En juis om hierdie rede het Innibos dié jaar besluit om nie net kunstefeeste se grense te verskuif nie, maar deur die klankgrens te breek.

In pas met die 2015 feestema – “Fees met hart” – poog Innibos om die kunswêreld vir dowes en gehoorgestremdes te ontsluit en só die eerste Afrikaanse Kunstefees te word wat vir gehoorgestremdes toeganklik is.

Dít meen, media en bemarkingsbestuurder van Innibos, me. Sandra Jacobs, is slegs moontlik deur gebaretaal.

“Deur dít te gebruik gaan Innibos op verskeie maniere verskillende kunsvorme vir dowes toeganklik maak,” het sy verduidelik.

Maar, om die leefwêreld van die dowes te verryk by ‘n kunstefees soos die, verg ongetwyfeld goeie organisasie, ‘n eienskap wat Innibos na 11 jaar beslis bemeester het.

Om daad by woord te voeg, skop Innibos vanjaar af deur dié fees se “amptelike groet” die internasionale gebaretaalteken van “ek is lief vir jou” te maak.

Feesgangers kan dié jaar ook na die debuutproduksie, Die Waarsêer uitsien. Volgens Jacobs is dié opvoering gekies om nie net die skeppingsproses van teater nie, maar ook die eindproduk met dowes te deel.

“Tydens ‘n werkswinkel sal die tema, verhaal en karakter van die stuk toegelig word en in een van die vertonings sal daar ‘n tolk wees wat die dialoog vir ‘n groepie dowes sal interpreteer.

Twee van hierdie vertonings sal van ‘n tolk gebruikmaak.”

Op die Innibos-feesterrein sal ook verskeie aanbiedinge van “stil teater” wat basies kort insetsels behels waarin beweging en suggestie gebruik word om ‘n verhaal te vertel. Volgens Jacobs sal dit in die Boma-kuierteater tussen ander toneelproduksies gebeur.

Nóg ‘n hoogtepunt beloof die gebaretaal-choreografie te wees.

“Ons beoog om dié jaar op Donderdag en Vrydagaand ‘n paar liedjies wat op die Standard Bank-verhoog uitgevoer gaan word te belig met gebaretaal-choreografie wat op die grootskerms aan weerskante van die verhoog sal verskyn.”

Verder kom maak die dowe digter, Tebu Kukhali, ook ‘n draai. Kukhali is deel van die produksie Woorde Innituin saam met die bekroonde digter Antjie Krog. Dié keer is die skoen egter aan die ander voet wanneer een van Kukhali se “dowe” gedigte in gebaretaal uitgevoer en vir horendes vertolk sal word.

Die breër Laeveldse gemeenskap word egter ook betrek. In die voorafgaande week sal FTHK, ‘n organisasie wat deur teater en die kunste brûe bou tussen horende en dowe gemeenskappe, in samewerking met die organisasie, Jazz Hands, ‘n skoleprojek plaaslik aanbied.

Volgens Jacobs is die doel hiervan nie net om groter bewustheid te skep vir onder meer die uitdaging waarmee dowes te kampe het nie, maar ook om suksesse wat bereik kan word, te beklemtoon.

Laaste, maar beslis nie die minste nie, is natuurlik humor.

Jacobs meen dowes is bekend vir hulle eiesoortige humor en daarom daag hulle dié jaar betrokkenes by die fees uit om kreatief te raak.

“Ons daag Innibos se borge en medewerkers uit om dié jaar ‘n slagspreuk in gebaretaal in te skryf en ons te wys hoe ‘n mens met jou oë kan luister.”

Die doel van hierdie projek is om groter bewustheid onder horendes te skep en so ook vir al die dowes toegang tot die kunste te verseker.

“Die oogmerk met hierdie projek is om verandering in gesindheid deur begrip teweeg te bring. So kan ons help bou aan die groter legkaart van die wêreld waar ons mekaar as medemens in ag neem. Hierdie is dus nie slegs ‘n passie nie, maar inderdaad ‘n hartstog.”

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version