Blou Bul skepskop laerskool juffrou se voete onder haar uit

Die rugby-afstand het dikwels hulle verhouding bemoeilik, maar na agt jaar het die jong Blou Bul, Louis Fouche, uiteindelik besluit om die jawoord te vra.

Louis Fouché (25), die Blou Bulle se losskakel, gaan eersdaags voor die kansel staan.

Die nr. 10, wat hier teen die einde van sy Blou Bulle-loopbaan nie té gewild onder Blou Bul-ondersteuners was nie en Louise de Villiers (23) het op 28 Februarie verloof geraak en beplan om op 10 Julie die knoop deur te hak.

De Villiers, ‘n graad 1-onderwyseres aan Laerskool Swartkop in Centurion, beskryf haar en Fouché se liefdesverhaal as ‘n moderne sprokie.

“Ek en Louis was van laerskool af in dieselfde skool. Ons het van mekaar geweet, maar nooit geken nie. Ons het mekaar op hoërskool op die selfoontoepassing, Mixit, gekontak, maar ek was in daardie stadium in ‘n verhouding en wou nie veel van sy ‘storietjies’ hoor nie.”

De Villiers sê die ouderdomsverskil van twee jaar (Fouché het toe al studeer en sy het op die skoolbanke gesit) het haar ‘n bietjie gepla.

Maar toe Fouché haar agt jaar gelede vra om sy meisie te word, het sy ja gesê.

“Ons het die afgelope jare ‘n langafstandverhouding gehad en dit was glad nie maanskyn en rose nie,” sê De Villiers.

Fouché het na sy matriekjaar vir ‘n BCom-graad aan die Universiteit van Noordwes (Pukke) gestudeer.

De Villiers het ook vining besef dat sy ook aan die Puk moet studeer, ‘want my liefde was daar’.

Fouché het nooit sy studies klaargemaak nie, want vyf jaar gelede het hy vir die Blou Bulle op hul tuisgrond in Pretoria uitgedraf.

“My droom om saam met hom die universiteitslewe te beleef, is net daar kortgeknip.”

De Villiers het besluit om verlede jaar by Laerskool Swartkop aan te sluit – ‘om nader aan Louis te wees’.

Maar die noodlot het weer ingegryp en Fouché het ‘n kontrak gekry om in Japan rugby te speel.

“In Februarie het hy teruggekom en ons het op ‘n gholfbaan verloof geraak.”

Volgens Zander Janse van Rensburg, die Blou Bulle se hoëprestasiebestuurder, sal Fouché ‘weer vir ons uitdraf’.

Dennis Lloyd, wat onder andere Cindy Nel se trourok ontwerp het, gaan ook die bruid se rok ontwerp.

Lees ook:

Polisie neem voortou in Carltonbeker

Wynie Strydom skryf boek om Bulle se unieke kultuur te verewig

Tukkies skop hul Carltonbeker veldtog af met reuse oorwinning

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button