Skokrolprent laat mense na sneesdoekies gryp

Die omstrede rolprent Treurgrond is gisteraand aan sowat 1 000 mense vertoon en die kykers het gemengde reaksies gehad. Hoe ook al, dit is beslis ‘n prent waarna Suid-Afrikaners moet gaan kyk, want dit beeld die skokkende werklikheid uit.

Een van die eerste plaasmoorde wat in Lydenburg, Mpumalanga, gepleeg is, is Donderdagaand herleef by die premiere van die omstrede rolprent Treurgrond.

Vir Ds Johan Els, wat self op die toneel van die moord was, was dit besonder moeilik.

“Ek het op dieselfde toneel afgekom as wat in die rolprent uitgebeeld is; die slagoffers se ledemate is ook afgekap. Ek sal daadie toneel nooit vergeet nie,” het hy gesê terwyl die trane oor sy wange rol.

Die premiere is by NuMetro in Menlyn gehou.

Treurgrond is in ‘n sekere sin ‘n dokumentêre rolprent om die realiteit van plaasmoorde in wrede besonderhede uit te beeld.

Die rolprent was vroeër vanjaar in omstredenheid gedompel weens die burgerregte-organisasie AfriForum se betrokkenheid.

Die kritiek was dat die rolprent verdeling pleks van versoening sal bring.

Maar soos Shaleen Surti-Richards, wat die rol van Katy speel, sê: “Daar is g’n politiekery in die rolprent nie. Dit is ‘n storie oor mense. Ek kan nie glo mense maak mekaar so seer nie. My hart kan dit nie vat nie. Nie eens diere maak mekaar so seer nie.”

Laurie Botha, direkteur van Model Management, wat ook na die rolprent gekyk het, meen dit sny baie na aan die been en beeld ‘n realiteit uit wat stedelinge nie verstaan nie.

“Ek wil nie weer gou na die rolprent gaan kyk nie. Nie omdat dit nie goed genoeg is nie, maar omdat dit so skokkend is.”

Sommige van die kykers het ook na die sneesdoekies gegryp en kon die trane nie keer toe die wrede moorde — veral op die twee kinders — uitgebeeld is nie.

Steve Hofmeyr, wat die rol van Lukas van Staden vertolk, het, net voor die vertoning gesê: “Dit is die grootste premiere wat ek tot nou toe bygewoon het. Terwyl ons na die rolprent gaan kyk, gaan twee boere vermoor word.”

Die premiere is deur sowat 1 000 mense, waaronder Hofmeyr se twee seuns, Armand en Devon, bygewoon.

Die gaste is op tradisionele boere-vingerhappies soos koeksisters, pampoentertjies en bobotie-pannekoeke trakteer.

Die rolprent sal van 29 Mei af landswyd te sien wees.

Ds Els sê: “Ons bly in so ‘n pragtige land. Ek hoop die rolprent sal mense versoen.”

Kyk ons onderhoud met Steve hier:

Kyk die voorskou hier:

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

 

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button