Gesoek: Die lekkerste koeksister

Solidariteit soek na die land se lekkerste koeksisters met 'n landwye kompetisie.

Elke dorp het daardie één bakker, die een wat die stroperigste, krakerigste en lekkerste koeksisters bak.

Maar wie is die koningin — of dalk koning — van die koeksister?

Binnekort sal die bespiegeling tot die verlede behoort, want Solidariteit Helpende Hand het die soektog na Suid-Afrika se lekkerste koeksister afgeskop.

Dié organisasie met meer as 120 takke het vandeesweek die kompetisie genaamd Stoofstories: Dié Koeksister Kompetisie van stapel gestuur en nooi nou die bobaasbakkers van regoor die land uit om in te skryf.

Anél du Preez, projekbestuurder van Helpende Hand, sê die doel is nie net om die lekkerste koeksister te bekroon nie, maar ook om die wenresep as deel van ‘n werkskeppingsprojek te benut waarby die bakker en behoeftiges sal baat.

“Koeksisters vorm ‘n belangrike deel van ons Suid-Afrikaanse kultuur en is as’t ware met ons harte vervleg,” sê Du Preez.

“As ‘n mens dink aan eg-Suid-Afrikaanse kookkuns, is koeksisters beslis een van die eerste dinge waaraan jy dink. Watter beter manier om dan die tradisie te vier as met hierdie kompetisie? Daarom soek ons nou na die koeksister wat jou tong verras en laat klap van lekkerte.”

Stoofstories is ook op soek na die stories agter die koeksister, en verhale, staaltjies en selfs gerugte oor koeksisters.

“Daar is talle stories oor koeksisters – die manier waarop die geheime resep behoue gebly het, hoe die resep die Groot Trek oorleef het, of hoe die resep ontdek is – en dié stories moet vertel word,” sê Du Preez.

Inskrywings vir die kompetisie sluit op 31 Mei waarna steeksuitdunrondtes regoor Suid-Afrika gehou sal word. Die finaal word in September in Pretoria aangebied.

Vir meer inligting oor die kompetisie besoek www.stoofstories.co.za

Navrae kan ook gerig word aan Anél du Preez by 012-644-4390. Sy kan ook by anel@helpendehand.co.za bereik word.

Lees ook: Afrikaans is vandag 90 jaar oud

Aksieplan oor standbeelde

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

Related Articles

Back to top button