Afrikaanse French Toast

Fliekgangers kan uitsien na die splinternuwe Afrikaanse fliek, French Toast, wat binnekort vrygestel gaan word.

Fliekgangers kon die afgelope naweek saam met akteurs van die splinternuwe Afrikaanse rolprent French Toast skouers skuur toe ‘n spesiale vertoning by The Grove Mall aangebied is.

Lika Berning en Thierry Ballarine wat die hoofrol in French Toast vertolk, was ook by die vertoning en het saam met aanhangers vir fotos poseer.

Die romatiese rolprent French Toast is deels in Frankryk en deels in Suid-Afrika geskiet en propvol prentjiemooi tonele met ‘n sielvolle klankbaan. Machiel Roets van Pretville-faam het baie van die musiek gekomponeer.

French Toast handel oor fotograaf Lise le Roux (Lika Berning) wat saam met haar pa op ‘n wynplaas naby Stellenbosch woon. Lise se ma, wat lank gelede oorlede is, het as simbool van haar nagedagtenis ‘n geheime familieresep vir Franse braaibrood nagelaat.

Op ‘n reënerige dag ontdek Lise haar ma se ou dagboek en vind tot haar verbasing uit dat sy ‘n broer of suster iewers in Frankryk het. Ondanks die feit dat Theo, haar pa se regterhand-wynmaker, op die punt staan om haar te vra om te trou, besluit Lise om na Parys te vertrek op soek na haar broer of suster en hopelik ‘n stukkie waarheid oor haar ma uit te vind.

In Parys ontmoet Lise ‘n Franse sjef, Jean-Pierre Baptiste. Jean-Pierre soek ‘n fotograaf vir sy nuwe kookboek. Lise stem in om die foto’s vir sy boek te neem mits hy haar help om leidrade te volg om haar verlore broer of suster op te spoor.

Terwyl hulle Parys saam verken, ontdooi Jean-Pierre se warm spontane persoonlikheid Lise se koel terughoudendheid. Lise se lewe verander in ‘n palet van nuwe smake, teksture, kleure en emosies, totdat daar skielik iets gebeur wat meebring dat Jean-Pierre verdwyn nadat hy vir Lise laat belowe het dat sy nie na hom sal soek nie. Lise ontdek uiteindelik die waarheid wat sy gehoop het haar sou vrymaak.

French Toast word op 24 April vrygestel.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button