Agter die skerms van Somer Son

Dié splinternuwe Afrikaanse film word in die hartjie van die nuwe ooste bekendgestel en is ‘n 'moet sien’ vir alle paartjies.

Die nuwe Afrikaanse film Somer Son word binnekort in teaters bekendgestel. Die word as Suid-Afrika se eerste ‘groen film’ beskou. Rekord het met die fliek se vervaardiger, Clinton Lubbe gesels oor die projek.

V: Wat het jou gelok om deel te word van hierdie projek? (Somer Son en die ‘groen film’ idee)

Toe ek en Bok van Blerk Land van melk en heuning se musiekvideo in Mosambiek verfilm het, het ons geweet Somer Son was die ideale geleentheid om iets nuuts te probeer. Net na dit het ek Nataniël se televisiereeks Die Nataniël Tafel se vierde en vyfde seisoene begin ‘groen’ maak en toe besef ek dat ek dit verder kon neem. Somer Son is die eerste oorspronklike Suid-Afrikaanse komedie-drama en ook die eerste ‘groen film’ in Suid-Afrika. Dit was nog altyd vir my belangrik om die omgewing in ag te neem. Dit gaan daaroor om iets agter te laat vir die generasie ná ons, soos vir my seun. Maak nie saak of dit ‘n groot of klein verskil is nie, dit is die idee daar agter.

V: Was die idee van die begin af om ‘n ‘groen film’ te maak, of is dit later besluit?

Van die begin af. As kinematograaf op Die Nataniël Tafel seisoen 4 en 5 het ek die produksie se kragverbruik met meer as die helfte gesny. Die kameras en beligtingsmetodes wat ek gebruik is van so aard dat dit baie minder elektrisiteit gebruik. Met Somer Son het ons dit ‘n stap verder gevat en sonkragpaneelopwekkers gebruik om al ons beligting en elektrisiteit op stel op te wek. Ons het ook van gasstowe gebruik gemaak om die kos te maak asook alle plastiek items soos waterbottels vervang met herbruikbare glasbottels. Verder het ons ook die papierverbruik op stel verminder, haarprodukte van Paul Mitchell se groen reeks gebruik en klere van Rip Curl se herwinbare reeks. Die hele na-produksiekantoor se krag word van die sonpaneelkragopwekkers verkry en ons het steeds ‘n papierlose kantoor.

V: Wat was die grootste uitdagings wat julle gehad het met hierdie film, en die projek as geheel? Was dit moelik om ‘n ‘groen film’ in Mosambiek te maak? Is die infrastruktuur daar?

Daar was glad nie infrastruktuur nie, ons moes maar daagliks rondry in die dorpies om vars groente en vrugte te soek en ons het gewoonlik alles gevat wat daar was. Verder was dit lekker dat Bok vir ons elke dag vis gevang het. Party aande het ons soos konings geëet en ander aande was daar ‘n paar bleek gesigte. Dit was verseker nie maklik om slegs van die sonpaneelkragopwekker te werk nie, maar die opofferings wat gemaak is, was die moeite werd. Party aande moes die akteurs ‘n kersie aansteek om hul woorde te leer en party dae was daar nie ligte op die stel nie, maar dit was baie min en die produk het nie daaronder gelei nie. Inteendeel dink ek dit het bygedra tot ‘n baie egte film.

V: Hoe het Bok van Blerk en Hanna Grobler se verhouding die film affekteer? Was daar geleentheid om te improviseer?

Dit was ‘n fees om Bok en Hanna op stel te hê. Hulle is twee van my gunsteling mense. Hulle het self gesê dit is lekker om saam met mekaar te werk want dan kry hulle ook die geleentheid om mekaar meer te sien. Hulle speel Richie en Terry, vriende van hulle in die regte lewe. Improvisasie? Jy sal maar self moet besluit as jy die film sien. Gaan kyk gerus die kortverhale van Richie en Terry se Verhoudingshoekie op Facebook by die Somer Son-bladsy om ‘n voorsmakie te kry van hoe hulle was. Skreeusnaaks.

V: Wat was die hoogtepunt van die hele projek?

Om goeie toneelspel op ‘n groot skerm te sien en om die mense om jou te sien groei, was nogal spesiaal.

V: Hoekom het julle besluit om die premiére by The Grove Mall te hou? Wat maak dit die beste plek om dit aan te bied?

Ons het besluit op The Grove Mall omdat die film ook gaan oor ’n paartjie van die ooste van Pretoria wat metp vakansie na Mosambiek gaan. ’n Groot deel van ons mark kom ook uit dié gebied en The Grove Mall is ‘n nuwe sentrum met goeie mense en baie geleenthede.

V: Wat kan mense op die aand van die bekendstelling verwag?

‘n Elegante, onvergeetlike aand met ‘n warm, eerlike fliek wat in hul harte gaan inkruip.

V: Wat hoop jy kry kykers uit die film uit?

Die film gaan oor alledaagse verhoudingsgoed wat op ‘n warm, ligte manier hanteer is en ek weet almal gaan dit kyk en besef hulle was ook al hierdeur en bietjie saam lag. Dit is verfrissend. Ek hoop die film neem almal ook op ‘n vinnige vakansiereis na Mosambiek.

V: Wat is die volgende projek wat jy gaan aandurf?

Die film gaan na Australië, Nieu-Zeeland en Europa, so daar is nog baie werk. Intussen is ons heeltyd besig om aan drie storielyne te skryf vir ‘n volgende film, maar die een waarna ek die meeste uitsien is dat ek vir Laurika Rauch en Elvis Blue in Junie ‘n konsert-DVD moet behartig.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Is jy passievol oor jou gemeenskap? Teken in op ons splinternuwe nuusflitse. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za om jou nuusflits gratis te ontvang.

Exit mobile version