Vettie Vettie te dik vir ’n daalder vir Pretorianers

Die trefferkomedie Vettie Vettie het verlede week sy speelvlak in Pretoria begin, maar dit blyk asof die jakarandastad se inwoners nie aan die vet-komedie byt nie.

Dit blyk asof Pretorianers nog nie hulle tande lekker kan inslaan in die trefferkomedie, Vettie Vettie, wat verlede week met sy speelvlak by die Pretoria Staatsteater begin het nie.

“Ons het die komedie al seker ‘n honderd keer landwyd opgevoer en oral – van Bloemfontein tot in Port Elizabeth – was dit uitverkoop. Ons sukkel om hier kaartjies te verkoop,” het Kosie Smit, die vervaardiger van die komedie, Vrydag gesê. “Ek kan dit nie verstaan nie – die langnaweek het moontlik bygedra tot die swak kaartjieverkope.”

Dit is die eerste keer dat Vettie Vettie in die Pretoria Staatsteater opgevoer word en terwyl ander teaters in die Jakarandastad uit hul nate bars gaan dit sukkel-sukkel om mense so ver te kry om vertonings in die staatsteater by te woon.

Die rede, meen André Frauenstein, die vervaardiger van die omstrede plaasmoordrolprent, is dat misdaad so hoogty in die middestad vier.

Frauenstein en sy vrou, Elbie, was verlede jaar self in ‘n gewapende roof in die parkeerterrein van die staatsteater betrokke nadat hulle na ‘n dramaproduksie gaan kyk het.

Die staatsteater het wel na verskeie voorvalle daar sy sekuriteit begin opskerp en wagte is oral sigbaar.

Vettie Vettie is ‘n ongewone liefdesverhaal waar die grootte van ‘n vrou nie die grootte van ‘n man se hart kan keer nie.

“Dit is warm, skreeusnaaks en verrassend,” sê Smit. “Dit is ‘n komedie met ‘n boodskap.”

Michelle Botha van Getroud met rugby-faam speel die rol van Vicky. Sy is die suksesvolle eienares van ‘n boekwinkel in London, enkellopend en ooglopend vet.

Wanneer sy haar droomman Tom Delport (Christiaan Schoombie) ontmoet, besluit sy om eens en vir altyd van haar vetrolletjies ontslae te raak en haar prins te vang.

Tobie Cronjé en Luan Jacobs is ook in die stuk te sien.

Vettie Vettie is deur Johan Bernard vertaal en deur Pierre van Pletzen verwerk van Charles Laurence se trefferkomedie My Fat Friend.

Volgens Smit vind skrywers dit moeilik om goeie Afrikaanse komedies te skryf en daarom is vervaardigers baie afhanklik van vertaalde komedies. “‘n Goeie komedie moet nie net ‘n ligsinnige gelag wees nie, maar ‘n boodskap hê wat teatergangers kan huis toe neem.”

Dit is ook die laaste keer dat Vettie Vettie op die speelvlak gaan wees en dit eindig op 25 April.

– Rekord in samewerking met die Pretoria-staatsteater gee 10 dubbelkaartjies vir Vettie Vettie weg. Jy kan enige tyd na die produksie gaan kyk. Om in te skryf, SMS jou naam en van en die woord VETTIE VETTIE na 42282. Die kompetisie sluit 20 April. SMSse kos R1.50.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button