Christelike rolprente kry nie aftrek

Die Christelike rolprentmark is besig om uit die dood uit op te staan, maar die rolprentreuse soos Sterkinekor en Numetro byt maar moeilik aan "rolprente met 'n Christelike of dalk prekerige" aanslag.

 

Die Christelike rolprentmark is besig om uit die dood op te staan, maar die rolprentreuse is versigtig om rolprente met Christelike temas op die groot skerm te vertoon.

Selfs die name van bekende akteurs soos Hykie Berg en David Louw in die nuwe Christelike rolprent Rowwe Diamante is nie genoeg om rolprentgangers na die teaters te lok nie.

So het vervaardiger Morne Lane Maandagaand gesê by die premiere van die rolprent in die Atterbury-teater in die ooste van Pretoria.

Rowwe Diamante is die die vierde rolprent, met ‘n meer inspirerende aanslag, wat deur Lane vervaardig is en die draaiboek is deur Louw geskryf.

“Ek het net ‘n maand gehad om die draaiboek te voltooi,” sê Louw, wat die hoofrol in die rolprent Wolwedans in die Skemer vertolk het. “Dit is wonderlike storie en gaan baie tieners inspireer.”

Lane se vorige rolprent Hartsbegeertes is wel deur die rolprentreuse op die grootskerm geplaas, maar het nie so goed gevaar nie.

Sy tweede poging Foresaken met die sanger Gerhard Steyn in die hoofrol, het ook nie die groot skerm gehaal nie. “Ek dink nie die rolprente is kommersieel of winsgewend genoeg nie,” sê Lane.

Rowwe Diamante vertel die storie van ‘n groep matrikulante ( probleemkinders) wat vir ‘n skoolvakansie na ‘n perdeplaas gestuur word om belangrike lewenslesse te leer. Rassisme in skole is een van die rolprent se sentrale temas.

“Die Christelike subkonteks is baie subtiel,” sê Lane.

Willie Olwage, wie se lewensverhaal in Foresaken verewig is, en Lane het met die Cross Kine Theater-konsep vorendag gekom.

“As die rolprentteaters nie ons rolprente wil vertoon nie en nie ons stories wil vertel nie, wil ons dit na die kerke neem. Die meeste kerke het deesdae goeie klank en baie sitplekke,” sê Olwage.

“In hierdie stadium het 120 kerke landswyd al hulle betrokkenheid bevestig en Foresaken gaan volgende maand in die kerke begin draai. Ons gaan ook 30% van die inkomste uit die rolprente in die kerke terugploeg. Dit is ‘n wonderlike geleentheid om die kerke te mobiliseer en te evangaliseer en die boodskape deur middel van die akteurs oor te dra.”

Twee Pretoriase sangers, Ghapi en Jennifer Zamudio, maak ook hulle akteursdebuut in die rolprent.

“Ek speel die rol van ‘n baie kwaai onderwyseres,” sê Zamudio. Sy is net sowat tien minute op die skerm, maar die krulkopsanger Ghapi vertolk een van die hoofrolle en sy karakter is baie boos.

“Ek gaan nie my sangloopbaan vir die van akteur verruil nie,” keer hy vinnig. “Die ervaring het my uit my beskermte musiekruimte geneem en my aan ‘n nuwe kunsvorm blootgestel.”

Lane se produksiemaatskappy, Incence Films, gaan die jaar nog agt plaaslikvervaardigde en vier internasionale rolprente uitreik.

Nie Sterkinekor of Numetro kon nie teen druktyd vir kommentaar bereik word nie.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

Is jy passievol oor jou gemeenskap? Teken in op ons splinternuwe nuusflitse. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za om jou nuusflits gratis te ontvang.

Related Articles

Back to top button