Nuwe musiekprogram word in huis-ateljee opgeneem

Afrikaanse musiekreeks gaan eersdaags op kykNET uitgesaai word.

Die Touch of Class-sanger Deon van der Merwe (54), het ‘n hele paar kilogram afgeskud vir ‘n nuwe musiekreeks wat eersdaags op die Afrikaanse kanaal kykNET uitgesaai gaan word.

Hy en sy sangmaat Ruan du Toit (32), spring nou net soos ander musikante Dozi, Steve Hofmeyr en Patricia Lewis, in die aanbiederstoel en beloof ‘n uurlange program waar daar veral op Pretorianers se musieksmaak gefokus gaan word.

Van der Merwe en sy voormalige sangmaat, Ronel Erasmus, het sowat vyftien jaar gelede bekend geword vir hulle treffer Ek en my meisie. Toe Erasmus die groep verlaat het, het Ruan du Toit hom twee jaar gelede by Van der Merwe aangesluit.

Dié twee het met die konsep My taal is musiek vorendag gekom en nadat hulle ‘n voorlegging aan kykNET gemaak het, het die bestuur besluit om die konsep te aanvaar. Dit het Van der Merwe laat besluit om gemorskos uit sy dieët te sny en eerder aan sappige gebakte vis te smul “en rys – ‘n man mag mos af en toe verneuk. ‘n Mens lyk altyd dikker op televisie,” het hy gister by sy siersteenhuis in Imbuialaan, Eldoraigne gesê.

Hy het ‘n gedeelte van sy ateljee in ‘n televisie-ateljee omskep en gaan binne twee weke begin om daar onderhoude met bekende sangers te voer.

Die eerste halfuur van die program fokus op Pretorianers se musieksmaak. “Ons het ‘n paar blonde sangeresse (hy neem verskeie sangers se CD’s op) na Mall@Reds in Centurion en Kolonnade in Montana gestuur om onderhoude met mense te voer. Dit was interessant om te hoor dat mense nie meer werklik na doef-doef musiek wil luister nie, maar eerder na immergroen-treffers,” vertel Van der Merwe.

Van der Merwe en Du Toit maak musiekvideo’s van mense se musiekkeuse wat op dié program uitgesaai gaan word. “‘n Paar mense het gevra vir Bobby van Jaarsveld en Steve Hofmeyr se treffers, maar nie ek óf Ruan wil werklik ander Afrikaanse sangers se liedjies sing nie,” sê Van der Merwe.

Onderhoude met sangers soos Gerhard Steyn handel hoofsaaklik oor hul persoonlike musieksmaak en die geykte onderhoude oor hul nuutste treffers gaan eerder vermy word.

Intussen is dié twee kliphard besig om musiekvideo’s van immergroen-treffers op te neem.

Related Articles

Back to top button