Dis ek, Anna, op silwerdoek

Die skokkende ware verhaal van die seksuele molestering van Anchen Troskie, wat in die boek Dis ek, Anna vertel word, en die fiktiewe opvolg Die Staat teen Anna Bruwer sal binnekort op die silwerdoek te sien wees met ‘n rolverdeling van die land se top-akteurs asook ‘n paar nuwe gesigte.

Die verhaal is een wat niemand behoort te beleef nie – ‘n verhaal oor wat agter geslote deure en toegetrekte gordyne in te veel huise gebeur, van ‘n siel wat geleidelik vernietig is.

Dit is egter ‘n verhaal wat móét vertel word sodat almal wat ooit die hel van seksuele mishandeling deurleef, weet stilswye is die verkeerde keuse.

Dis ek, Anna, ‘n Afrikaanse blitsverkoper wat handel oor seksuele en emosionele misbruik, gaan binnekort op die silwerdoek te sien wees. Die boek en sy opvolg, Die Staat teen Anna Bruwer, word nou as een fliek verfilm.

Dis ek, Anna is gegrond op die ware verhaal van Anchien Troskie wat jare lank deur haar stiefpa misbruik is terwyl haar ma anderpad gekyk het. Die boek is in 2005 gepubliseer en het die land aan die gons gehad. ‘n Fiktiewe opvolg, Die Staat teen Anna Bruwer, het in 2012 gevolg.

Die besluit om die storie van Anchien na ‘n wyer gehoor uit te brei as die duisende mense wat haar boek gekoop het, is al ‘n paar jaar gelede geneem en is die breinkind van, onder andere, vervaardiger Niel van Deventer en Charlene Brouwer, wat die rol van die volwasse Anna vertolk.

“ ‘n Paar van ons het saam op die projek besluit en baie tyd daaraan bestee met die hoofdoel om Anna se lewe met deernis en respek uit te beeld en ook om bewusmaking te skep van die verskriklike gevolge en pyn wat seksuele misbruik veroorsaak,” het Brouwer aan Rekord gesê. Brouwer se passie vir die projek en haar empatie en medelye met Troskie het duidelik na vore gekom.

Die film plaas klem daarop dat seksuele molestering en misbruik nie aanvaarbaar is nie en dat die slagoffer daaroor moet praat.

Die regie word deur die bekwame Sara Blescher behartig en rolverdeling sluit die room van die plaaslike rolprenbedryf in, met name soos Marius Weyers, Elise Cawood, Fezile Mpepe, Hykie Berg en Nicola Hanekom.

Die veeleisende rol van die jong Anna word deur die talentvolle Izel Bezuidenhoudt, ‘n graad 11-leerling aan Hoërskool Eldoraigne in Centurion vertolk. “Dit is ‘n baie emosionele rol wat moeiliker gemaak word omdat ek weet dit nie fiksie is nie – dit is die ware verhaal van ‘n jong meisie wie se lewe verwoes is deur iemand wat sy moes kon vertrou,” het Bezuidenhoudt gesê.

Haar grootste oomblik op die stel was toe sy Anchien Troskie persoonlik ontmoet het. “Dit het verskeie emosies in my wakker gemaak en ek wil graag my beste doen om reg aan haar lewensverhaal te laat geskied.”

Anna se verhaal het ook ‘n prokureur van Pretoria, Salomé le Roux (uitvoerende vervaardiger), aangegryp en sy het nie gehuiwer om geldelik by die verfilming betrokke te raak nie. “Ons glo dit is ons plig om die rolprent te vervaardig en so te probeer om die wêreld ‘n beter plek te maak.”

As prokureur was Le Roux tuis met veral die tonele wat oor die hofsaak handel, wat die besluit om deel te wees van die vervaardigingspan verder vergemaklik het. “Ek is gemaklik met die projek en ‘n bonus is dat al die mans in die rolverdeling sterk voel teen die mishandeling van vroue en kinders.”

Le Roux het benadruk dat die film geen fisieke molestering uitbeeld nie. Die moeilike tonele word suggestief uitgebeeld sodat die rolprent deur alle ouderdomme gesien kan word. “Die tonele is met soveel smaak en deernis as moontlik vervaardig.”

Die rolprent, wat later vanjaar uitgereik word, is op verskeie plekke verfilm insluitende Randburg, Bloemfontein, Knysna en Pretoria. Van die tonele is in die historiese Paleis van Justisie op Kerkplein geskiet.

Foto: Danielle Garrett
Grafika: Danielle Garrett

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

Related Articles

Back to top button