Gretha Wiid se dogter (8) ongedeerd ná sy 3m val

Gretha Wiid se agtjarige dogter het Saterdag harsingskudding opgedoen toe sy kop eerste van 'n muur afgeval het.

Die bekende spreker en verhoudingsghoeroe Gretha Wiid se agtjarige dogtertjie het Saterdagaand harsingskudding opgedoen toe sy van ‘n drie-meter hoë muur geval en kop eerste op plaveisel beland het.

Ghitte Wiid het omstreeks 21:00 saam met maats wegkruipertjie in ‘n woonstelblok in Margate, KwaZulu-Natal gespeel waar die gesin vakansie hou, toe die ongeluk gebeur.

Sy het glo op ‘n nat muur gespring, gegly en geval.

Chris Botha, Netcare 911-woordvoerder, het gesê sy was in ‘n ernstige toestand en paramedici het haar op die toneel gestabiliseer voor sy na ‘n nabygeleë hospitaal vir verdere behandeling geneem is.

‘n Dankbare Gretha het Sondag op haar Facebookblad geskryf dat Ghitte geen bloeding op die brein het nie en ook niks gebreek het nie.

“Dankie Here!” het sy geskryf. “‘n Absolute wonderwerk! Dis wat die dokter gisteraand by ongevalle gesê het met my dogtertjie se opname. En die paramedikus skud sy kop en sê dat ons regtig gelukkig is – dit kon ‘n aand gewees het wat ons hele lewe verander het.”

Gretha het gesê sy loof God saam met haar gesin en klein Ghitte – nie net vir Sy getrouheid en beskerming Saterdagaand nie, maar ook vir die “wonderlike ambulans- en hospitaal-personeel.”

Sy het gesê Netcare 911 se diens was “ongelooflik vinnig en professioneel” en hulle was wonderlik met haar dogtertjie.

“Ai julle, ‘n ongeluk gebeur so maklik en ons kan nie ons kinders in watte grootmaak nie. Kom ons wees vandag opnuut dankbaar vir God se beskerming daar waar ons kinders speel en die waters toets,” het sy geskryf.

Vir gratis nuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.

Exit mobile version