Robbie Wessels gesels oor toneelspeel

Robbie Wessels het met Rekord gesels oor toneelspeel en hoe dit voel om deel te wees van Binnelanders.

Suid-Afrika se grapjas-sanger en akteur, Robbie Wessels, het vroeër vanjaar sy jongste album Als Wat Ek Het uitgereik en is later vanjaar ook op die kassie te sien as deel van die gewilde Afrikaanse sepie Binnelanders.

Rekord het met Robbie gesels oor sy rol in dié gewilde sepie, sy toekomsplanne en wat hy van toneelspeel dink.

Jy het vroeër die jaar die album Als Wat Ek Het uitgereik. Hoe is die album ontvang?
Die mense by die vrystelling van die album se reaksie was vir ons as groep baie positief so ek glo die mense geniet die nuwe ‘songs’.

Waar sou jy sê kry jy jou inspirasie vir jou liedjies?
Ek vind dat as ek reis kry ek nogals inspirasie en ook wanneer ek tussen nuwe mense kom en hulle stories hoor. Ook op stil plekke wanneer ek baie rustig is en niks my jaag nie.

Wat is volgende vir Robbie?
Niks in die onmiddellike toekoms behalwe om saam met die ‘band’ te toer nie. En dan skryf ek en my broer ook saam aan ‘n nuwe film.

Is daar enige nuwe musiekvideos of toere waarna ons binnekort kan uitsien?
Ek sal dit geniet om weer ‘n musiekvideo te maak, ek het net nog nie besluit vir watter lied nie.

Jy is tans op die stel van Binnelanders. Hoe ervaar jy die hele proses?
Ek geniet dit baie. Dis so ‘n lewendige sepie en die akteurs is almal so gemaklik in hulle rolle. Dit vloei lekker.

Hoe het jy op die stel van Binnelanders beland?
Hulle het my genader vir die rol en ek was dadelik opgewonde. Ek kan niks daaroor verklap nie maar ek geniet die karakter baie.

Sal jy sê toneelspel is vir jou baie uitdagend?
Ek geniet dit, maar ja soms is dit vir my baie uitdagend. Die ding van toneelspel is mens moet leer om te ontspan, veral voor kameras en soms raak ek benoud as ek sukkel met my woorde. Wanneer ek die meeste op my gemak is, is toneelspel vir my ‘n groot plesier.

Jou aanhangers kan nie wag om jou later vanjaar op die Afrikaans is Groot-verhoog te sien nie. Hoe voel jy daaroor?

Ek is opgewonde. Dis altyd lekker en ‘n voorreg. Ek hoop ek is fiks wanneer die konserte begin ingeval ek weer moet lyf swaai soos in die ou dae. Ek is net bang ek trek ‘n hamstring of sweet dalk op ‘n lewendige kragdraad en skok myself dalk dat die rook trek. ‘n Man moet gereed wees vir enige uitdaging wat na sy kant toe kom.

Hoe het jy betrokke geraak by Afrikaans is Groot?
Ek stap al ‘n goeie paar jare saam met die manne by Coleske en het maar deur hulle betrokke geraak.

Ons weet die jaar is nog nie verby nie, maar was daar sover enige hoogtepunte?
Ek sou sê my reis oorsee en verseker om deel te kan wees van Binnelanders.

Enige inspirerende boodskap wat jy vir jou aanhangers wil gee?
Ek hoop almal geniet die somer wat nou begin kop uitsteek. Hou moed vir die laaste stukkie van die jaar en omring jouself met mense wat jou opbeur en nie afbreek nie, en bid gereeld.

Dans so nou en dan voor die spieël, eet baie vrugte, gaan draf of ry fiets. Lets do it! Ons kan saam begin, want ek het ook lanklaas al daai goed gedoen. Geniet die laaste kwart van 2014.

Vir musiekvideos van Robbie klik hier of volg hom op twitter.

Lees ook
Robbie voel goed oor album

Related Articles

Back to top button