Opvoering laat gehoor skaterlag

My Boetie se Sussie se Ou is tans by die Staatsteater in Pretoria op die planke.

John Smith het ook geen ruskans nie. Nie net is hy ‘n taxi-bestuurder in die besige Londen nie, maar hy het ook twee vrouens. En nou twee gesinne!

John Smith (oorspronklik deur Hannes Muller vertolk) het vir die eerste keer Suid-Afrikaners laat skaterlag in My Vrou se Man se Vrou – Peet van Rensburg se vertaling van Ray Cooney se Run for your wife.

In dié toneelstuk ontmoet mens Londen taxi-bestuurder John Smith, sy twee vrouens, Mary en Barbara en die mense in sy lewe. Ook sy vriend Stanley Gardener (oorspronklik vertolk deur Tobie Cronjé).

Nou, 18-jaar later kuier ons weer by John Smith (vertolk deur David Rees) in My Boetie se Sussie se Ou. John is steeds ‘n taxi-bestuurder in Londen, maar het nou twee gesinne, beide in Londen en altwee onbewus van die van die ander se bestaan. John se beste vriend, Stanley (Botha Enslin), bly steeds by hom aan huis. John Smith se lewe het pas doller geraak, want nou moet hy sy twee gesinne van mekaar af weghou, en dit is nie so maklik nie.

My Boetie se Sussie se Ou toer sedert Maart vanjaar regoor die land, en het nuwe hoop vir die toekoms van Afrikaanse teater geskep. “Ek het baie hoop vir teater, rolprente en televisie in Afrikaans,” sê Anel Du Plessis, wat die rol van John se dogter Vicky vertolk.

Die gehoor het tydens openingsaand geskaterlag, en het elke oomblik van die vertoning geniet. Dit is beslis die moeite werd om te gaan kyk.

My Boetie se Sussie se Ou is 2 tot 14 September in die Staatsteater op die planke.

‘Like’ Rekord op Facebook of volg ons op Twitter vir meer nuus.

Exit mobile version