Kokkedore onthaal by Morgenzon-landgoed

Twee Kokkedoor-deelnemers van Pretoria het gaste die naweek met 'n vyfgangmaaltyd onthaal.

Twee deelnemers aan die gewilde TV-program, Kokkedoor Lorraine Swanepoel en Renette Vosloo, van Pretoria, het onlangs die eerste funksie van hul Hartskos-kafee by Morgenzon-landgoed gehou.

Die vyfgangmaaltyd, gepaard met die ondersteuning van Van Loveren-wyn, het sowat 50 gaste onthaal soos net ‘n Kokkedoor kan.

“Hierdie is die eerste funksie na my en Renette se samesmelting, Hartskos-kafee en ons is baie opgewonde oor die geleentheid,” het Swanepoel gesê.

Een van die gaste, Annie Olivier, is ‘n groot aanhanger van die Kokkedoor-reeks.

“Dit is vir my ongelooflik om vanaand hier te kan wees en self die Kokkedore se kos te kan geniet. Ek het dit vreeslik geniet om die reeks te kyk en nooit gedink dat ek een van die Kokkedore se gaste sou wees en ook hul lekker disse sou kon geniet nie,” het Olivier gesê.

Volgens Herma Schalekamp, mede-eienaar van Morgenzon-landgoed, is die landgoed baie bevoorreg om die twee Kokkedore se funksie te kan aanbied.

“Die aand was ‘n reuse sukses en ons is baie bevoorreg om deel te kan wees van Lorraine en Renette se funksie. Ons sien uit om ‘n lang pad saam met dié Kokkedore te stap,” het Schalekamp gesê.

 

Exit mobile version